NELSPRUIT – ‘n Jong vrou is in ‘n kritieke toestand in Mediclinic Nelspruit se intensiewesorgeenheid nadat sy vroeg gisteroggend van ‘n balkon in Steiltes afgeval het. Me. Amanda Joubert (23) is omstreeks 04:00 met erge kopbeserings na die hospitaal gebring.
Haar vriend, mnr. Victor Wilkens (30) was saam met haar ten tye van die voorval.
Dit is nie die eerste keer dat die paartjie in die nuus is nie. Laevelder het verlede jaar berig dat hulle in ‘n verhouding was en dat Joubert ‘n klag van aanranding teen hom aanhangig gemaak het nadat hy haar na bewering aangerand het. Hulle het egter buite die hof geskik en Joubert het die klagte teruggetrek.
Hulle was destyds sowat ses maande lank saam toe Joubert se ouers agtergekom het dat iets fout was. Sy was gereeld vol bloukolle. Hulle het saamgebly en Joubert het op 7 Desember 2012 haar ma geskakel om haar te kom haal nadat Wilkens haar glo aangerand het.
Sy is ongevalle toe geneem nadat sy gekla het van erge pyn in haar bors. Daar is vasgestel dat vier van haar ribbes gekraak was en haar een oordrom gebars het. Laevelder het nog foto’s van haar beserings gesien, asook ‘n afskrif van ‘n beskermingsbevel wat sy teen Wilkens bekom het.
Joubert se ma, me. Celia Normak, het gister by navraag gesê dat hulle nog nie kon vasstel wat gebeur het nie. Sy het nie gesê of Wilkens en Joubert weer romanties betrokke was nie, maar in onlangse foto’s op albei se Facebook-profiele verskyn hulle weer saam.
Mediclinic woordvoerder, me. Robyn Baard, het gesê dat Joubert in ‘n kritieke, maar stabiele toestand is. Kapt. Dawie Pretorius, Nelspruitse polisie-woordvoerder, het gesê dat hulle nie na die toneel ontbied is nie. Pogings om Wilkens op te spoor vir kommentaar, was vrugteloos.
• Lees meer oor die aanrandingsklag wat Joubert teen Wilkens aanhanging gemaak het verlede jaar, hier
