Hard newsNewsNews

Man oorleef krokodil-aanval

Ek weet nie hoe het hy uiteindelik daar los gekom het. Dit was maar gebede en die Here se genade

HAZYVIEW – ‘n Man (42) het wonderbaarlik aan die dood ontkom toe ‘n krokodil hom gister in ‘n plaasdam in die omgewing aangeval het.

Mnr. Mario Ferreira sterk tans aan in Rob Ferreira Hospitaal in Nelspruit nadat dié twee-meter lange reptiel hom gisteroggend beetgekry het.

Hy en sy seun (16) het vanuit ‘n kanoe op die dam gesit en visvang. Volgens me. Gerty Greyling van Lifemed wat Ferreira behandel en na Rob Ferreira gebring het, was hy besig om die vislyn in te katrol toe die krokodil dit gryp.

Ferreira het van die kanoe afgeval en die dier het hom aan die linkerhand gegryp en onder die water ingetrek. Hy kon hom loswikkel en het na die kant geswem toe die krokodil hom weer aan sy bene beetgekry het.

Volgens sy vrou, Yolande, het die dier hom verskeie kere onder die water ingetrek en hom in die rondte gedraai soos krokodille doen om hul prooi se vleis los te skeur.

“Ek weet nie hoe het hy uiteindelik daar los gekom het. Dit was maar gebede en die Here se genade,” het sy gesê. Hulle seun is nie in die voorval beseer nie en was net erg geskok.

Hulle het na ‘n dokter op Hazyview se spreekkamers gejaag en Lifemed is ontbied om Ferreira hospitaal toe te vat.

Hy het baie bloed verloor en Gerty en haar man, Metrie, ook werksaam by Lifemed, het met hom na Nelspruit gehaas. Buiten dat sy duim uit lid geruk is, het hy niks gebreek nie. Hy het ook verskeie diep wonde aan sy bene opgedoen wat met steke geheg is. Die dokters is hoopvol dat hy volkome sal herstel.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button