NELSPRUIT – “Boere is maklike teikens eerder as ‘n spesifieke teiken,” meen mnr. Archie Smuts, ‘n boer van Schagen, as hy oor die verskynsel van plaasmoorde praat. Sy seun, mnr. Trevor Smuts, beaam dit, en voeg by dat dit in meeste gevalle mense sonder sekuriteit is wat aangeval word, en dat hierdie slagoffers soms nie eens boere is nie.
Die Smutse ken die trauma van ‘n plaasaanval – Archie se ma is ontvoer, verkrag en vermoor ‘n paar jaar gelede. Die mans verduidelik dat die slagoffers in die laaste twee aanvalle in Schagen nie eens boere was nie. “Plaasaanvalle is nie eintlik ‘n probleem hier nie,” sê mnr. Henry Milner, voorsitter van Schagen se veiligheidkommitee. Hierdie einste stelling is deur boere uit verskeie distrikte gemaak op navraag van Laevelder oor die voorkoms van plaasaanvalle die afgelope jaar.
Laevelder het in 2013 oor altesaam 19 aanvalle op inwoners van plase en kleinhoewes, insluitende vier moorde berig. Daar was tot dusver vyf plaasaanvalle in 2014 waarvan die koerant kennis dra. Hierdie gebeure het verspreid in die Laeveld voorgekom, maar Alkmaar en plase tussen Witrivier en Sabie het die ergste deurgeloop. J&M Sekuriteit, wat ‘n groot teenwoordigheid in plaasgemeenskappe in die gebied het as ‘n private sekuriteitsverskaffer, is van mening dat geen enkele area meer geteiken word as ‘n ander nie.
Die instituut vir sekerheidstudies het onlangs aangekondig dat die gemiddeld vir plaasmoorde in Suid-Afrika 98,8 uit 100 000 per jaar is, meer as drie maal hoër as die wêreldgemiddeld.
Op grond hiervan, asook gister (Donderdag) se bekendstelling van ‘n aksieplan teen plaasmoorde, het Laevelder het die week die mening van boere regoor die streek ingewin. Die gevoel onder plaaslike boere is dat die SAPD oor die algemeen nie oor die kennis of hulpbronne beskik om dit te voorkom of te ondersoek nie. Sommige bevraagteken ook die bereidwilligheid van sekere polisielede om ‘n ordentlike ondersoek te loods.
Die twee keer wat daar op hulle in hul eie huis geskiet is, het die polisie lank geneem om te reageer. “Inteendeel, hulle het my man gevra of ons ‘n saak moet open, want niemand is beseer nie!” vertel ‘n vrou van Brondal. Sy erken hierdie twee gevalle het vier en ses jaar gelede plaasgevind.
‘n Boer van Brondal wie se vrou in 2007 die slagoffer van ‘n aanval was, mnr. Stuart Hulley-Miller, is van mening dat, alhoewel die SAPD sy saak opgelos het, daar groter dissipline en toerekeningsvatbaarheid in die polisiemag moet wees. (Louise Hulley-Miller is sewe keer deur aanvallers geskiet en die egpaar se tweejarige seun het een kilimeter ver geloop na sy grootouers se plaas om hulp te ontbied). Net so is mnr. Mike Garratt van die Heidel Vallei glad nie beïndruk met die manier waarop die polisie ‘n aanval op sy plaas in 2005 gehanteer het nie. Hy vertel dat hy geen terugvoer oor die saak van hulle ontvang het nie. “As gevolg van die SAPD se wye area van verantwoordelikheid is dit onmoontlik om alle areas effektief te patroleer. Hierdie is hoofsaaklik een van die redes hoekom landelike gemeenskappe sekuriteit maatskappye aanstel om hulle beveiliging te behartig,” volgens Mnr Hendrik Botha van J&M Sekuriteit.
Boere-gemeenskappe in Mara, Schagen, Alkmaar, Brondal, Heidel Vallei, Curlews en Hazyview maak gebruik van private sekuriteitsmaatskappye, gereelde veiligheidsvergaderings, en radio-kontak. Die Schagen-boeregemeenskap het verder gegaan, en is in die proses om kameras op vyf plekke op te rig wat voertuie dophou wat in en uit die gebied beweeg. Hierdie projek kos die gemeenskap ongeveer R80 000. Die komnitee maak ook van die selfoon-kommunikasieprogram, WhatsApp, gebruik om verdagte persone, geluide of voertuie te rapporteer. “Toegangsbeheer op die paaie sal ideaal wees,” meen Milner. Dit is juis een van die belangrikste aspekte wat, volgens mnr. Barend van Rensburg van Mara, boere in hierdie omgewing tot dusver vry van aanvalle gehou het. Dít en goeie verhoudinge met werkers, sê hy.
Individue moet ook self voorsorg tref, meen ‘n boer van die Heidel Vallei. Hy noem heinings, waghonde en diefwering as belangrike maatreels op elke plaas. “’n Paniekknoppie is ‘n móét,” sê mnr. Trevor Smuts van Schagen. Die polisie en sekuriteitsmaatskappye is bloot reaktief, herinner Garratt.
Paraatheid word deur meeste boere genoem as uiters noodsaaklik om aanvalle te voorkom. “Wees bedag, en laat vreemdes in die omgewing weet jy is bewus van hul teenwoordigheid,” maan een boer.
Milner verduidelik dat die honderde kilometres (en miljoene rande) se elektriese heinings in die Schagen-omgewing ‘n groot verbetering in sekuriteit meebring aangesien dit kriminele dwing om die paaie te gebruik, wat nou deur kameras en patrollies gemonitor word. “Tien jaar gelede toe ek die eerste een was wat so ‘n heining opgerig het, het almal vir my gelag!” onthou hy.
Teen druktyd was AfriForum steeds besig met die verifiering van statistieke oor plaasaanvalle – iets wat nie as ‘n afsonderlike tipe misdryf deur die SAPD geklassifiseer word nie. Die regering tref sedert 2007 nie meer onderskeid tussen aanvalle en roof en plaasaanvalle as sulks nie.
AfriForum het nie tans aktiewe plaasnetwerke in die Laeveld nie, volgens mnr. Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid. Takke is egter besig met die nodige strukture in Graskop, Sabie en Witrivier, sê hy.
Die vyf pilare waarop dieAfriForum-veldtog ter prioritisering van plaasaanvalle rus, sluit in plaaslike druk en protesoptrede veral gemik op die SAPD se gebrekkige landelike beveiligingsbeleid; voortgesette internasionale bewusmaking, gemeenskapsbetrokkenheid; slagofferbystand (ook in terme van misdaad-ondersoeke waar dié van die polisie te kort skiet) en navorsing oor die verskynsel van plaasaanvalle en -moorde.
“Ek vrees elke dag vir die lewens van my gesin,” sê ‘n boer, mnr Kuen Pappas, en ‘n ander bieg dat hy nie weet hoeveel langer hy die stygende sekuriteitskostes sal kan bekostig nie. “Ons bestee honderde duisende rande sonder enige belastingverligting,” sug hy.

