Mario Ferreira (41) wat verlede week deur ‘n krokodil in ‘n dam naby Hazyivew aangeval is, is uit die hospitaal ontslaan en sterk tans tuis aan. Hy het sewe bytmerke op sy bene en verskeie krapmerke in die voorval opgedoen.
Ten spyte van al dié beserings het hy nie een fraktuur of skade aan interne organe opgedoen nie.
“Ek was bewus van die feit dat daar ‘n krokodil in die dam was,” sê Ferreira, maar die reptiel is drie weke voor die insident laas opgemerk. “Ek en altwee my seuns was die week voor die aanval ook op die dam met ons kano’s en ons het nie die gedierte gewaar nie.
Ferreira wou gou sy lyne gaan intrek en is toe alleen op die kano uit terwyl sy een seun in die voertuig gebly het. Toe hy besig was om sy tweede lyn in te trek het die krokodil hom gegryp. Hy het uit die kano geval en die krokodil het hom onder die water ingetrek. Hy het Ferreira aan die hand beetgekry en in die water begin omrol.
“Dis toe dat ek besef het nou moet ek baklei vir my lewe. Ek het ‘n vrou en twee seuns om voor te sorg en as mens nie baklei nie dan verloor jy verseker.
Op ‘n stadium het ek probeer om sy bek toe te druk. Hy het my toe skielik gelos en eenkant in die water, met sy kop weggedraai van my af, gaan lê. Dis toe dat ek die kans gekry het om na die oppervlak te kom en vir my seun te skree om hulp te ontbied.”
Volgens sy oudste seun, Dawie (16), was sy pa so ongeveer drie minute onder die water. Terwyl Dawie hulp gaan soek het, het Ferreira dit reggekry om terug in sy kano te klim. Hy het met sy hande tot by die wal geroei.
“Ek was te bang on in die kano te bly en wag vir hulp in geval die krokodil my weer sou aan val. Ek het myself teen die wal uit opgetrek. Kort daarna het my seun met hulp gearriveer.”
Volgens Ferreira het die dokter vir hom gesê dat hy gelukkig was dat geen senuwees beseer, ribbes gebreek of slagare afgebyt is nie. Dr BL Veenemans, wat tans na sy herstel omsien, het aan Hazyview Herald gesê dat hy tevrede was met Ferreira se vordering.
Laasgendoemde sê dat hy nie kan verduidelik hoekom die krokodil hom gelos het nie. ‘Maar ek glo dat die Here vir my ‘n tweede kans gegee het en dat dit nou tyd is om vir Hom te werk.”
Daar is beoog om die krokodil te skiet maar Ferreira het versoek dat dit nie gedoen word nie.Die reptiel is toe na ‘n krokodilplaas in Hayzyview verskuif waar hy nie verder ‘n gevaar vir die publiek sal wees nie. “Ek kan nie die krokodil blameer nie. Hy was in sy natuurlike omgewing en dit is ek wat in sy habitat oortree het.”
En wat van nagmerries oor die gebeure? “Ja ek en my vrou,Yolande, kry albei nagmerries. Behalwe daarvoor gaan dit egter goed met ons. Die steke word einde van Januarie uitgehaal en die gips kom Maart af. En ja, dan ek gaan weer visvang!”
