Skitterende vertonings op veld laat rekords spat
Toe die rekords verlede week reeds vroeg tydens die jaarlikse interhuis byeenkoms begin spat, het Hoërskool Lydenburg se hoop op ‘n paar Springbokatlete opnuut opgevlam toe oud-Springbok, Riana Swart, se rekord na 38 jaar verpletter is
LYDENBURG – Toe die rekords verlede week reeds vroeg tydens die jaarlikse interhuis byeenkoms begin spat, het Hoërskool Lydenburg se hoop op ‘n paar Springbokatlete opnuut opgevlam toe oud-Springbok, Riana Swart, se rekord na 38 jaar verpletter is. Swart het in die laat sewentigs haar stempel behoorlik op dieselfde sportveld afgedruk en sederdien kon geen atleet nog daarin slaag om haar 100m rekordtyd te klop nie.
Hierdie jaar was dit egter tyd om die rekordboeke te herskryf. Groot was die verwagting toe die o/15 meisies in die blokke sak, terwyl daar ‘n doodse stilte oor die stadion hang. Blitsig uit die blokke en 12.88 sekondes later, staan Eugenie Steenekamp met ‘n ”beste atleet van die dag” vertoning aan die anderkant van die wenstreep.
Die vreugde was nie verby nie. Toe die uitslae oor die luidsprekers weerklink, word toeskouers ingelig dat Khanyesile Ndlova sowel as Tess Jansen albei ook hierdie rekord met ‘n tyd van 13.12 en 13.29 onderskeidelik verpletter het.
‘n Totaal van 14 rekords is tydens die byeenkoms verbeter. Steenekamp is as junior victrix ludorm, veelsydigste junior dogtersatleet, beste atleet van die dag, beste 100m, 200m sowel as 400m asook o/15 dogtersatleet vir die dag aangewys en het die 300m hekkies vir meisies o/15 verbeter.
Isak Beytell het ook verskeie trofees ingepalm: senior victor ludorm, veelsydigste senior seunsatleet, beste seuns 100m, 200m, beste seuns spronge en o/16 seunsatleet van die dag. Beytell het verder ook die rekord in die 110m hekkies, 400m hekkies asook 200m vir o/16’s verpletter. Die volgende atlete is ook rekords ryker: Christiaan Kruger (100m hekkies, 300m hekkies, 400m o/14, veelsydigste junior seun), Suné Labuschagne (spiesgooi o/15), Leonard Mkhabela (1 500m o/15), Hein Steyn (skyfwerp o/15, junior victor ludorm), Mignon Black (400m hekkies o/17, veelsydigste senior dogter), Petrone Bouwer (gewigstoot o/17, senior victrix ludorm), Shannon Schoeman (spiesgooi o/17).
Blok
Beste seunsdirigent: Keanu Hornh
Beste dogtersdirigent: Simone de Beer
Beste opkoms: Arende
Groot Brag: Ratels
Sang: Arende.
Blok
Top-10 atlete
1. Eunice Steenekamp (100m)
2. Petrone Bouwer (gewigstoot)
3. Hein Steyn (skyfwerp)
4. Anneri du Toit (skyfwerp)
5. Khanyesile Ndlovo (100m)
6. Hein Steyn (gewigstoot)
7. Sune Labuschagne (spiesgooi)
8. Ansie Bylsma (gewigstoot)
9. Clayton Westcott (gewigstoot)
10. Danika Luies (gewigstoot).
