
LYDENBURG – Die kind wat vanoggend deur ‘n taxi raakgery is, is buite gevaar en word tans by die hospitaal behandel vir ‘n paar snywonde.
Volgens Me Natashia Robbertse, wat die toneel uit haar truspieëltjie waargeneem het, het sy gesien hoe die taxi die kind tref. “Die kind het oor die pad gehuppel en die volgende oomblik het hy (die kind) op die grond bly lê.
Ek vermoed die taxi het ongeveer tussen 80 en 100 km/h gery.” Die verkeer is onmiddellik tot stilstand gedwing en die polisie en ambulans is in kennis gestel. “Ons het na die kind gehardloop waar hy probeer het om op te staan, maar hom aangemoedig om liefs te bly lê. Die taxidrywer het na die kind toe teruggery en dadelik begin verduidelik wat hy gesien gebeur het.
Ek het besluit om na die verkeersafdeling te ry sodat die nodige maatreëls getref kon word en verkeer weer rustiger kon vloei.” Volgens Robbertse was die verkeersafdeling vinnig op die toneel, maar was die verkeer steeds vir ‘n wyle opgehoop. “Ek het my kinders by die skool gaan aflaai en toe ek terugkom was die kind reeds in die ambulans.”
