Hard newsNewsNewsUpdate

Vrou val van balkon: Amanda verduur baie pyn

Dokters het aan Celia gesê dat haar dogter eers buite gevaar sal wees as sy heeltemal wakker is en van die ventilator (wat vir haar asemhaal) gespeen is

NELSPRUIT – Daar is hierdie week ‘n effense verbetering by me. Amanda Joubert (23) waargeneem, maar sy ervaar nog geweldige pyn. Joubert word nog steeds in Mediclinic Nelspruit se intensiewe-sorgeenheid behandel, nadat sy op 16 Januarie van ‘n balkon by Hillside Manor in Steiltes geval het.

Haar vriend, mnr. Victor Wilkens (30) was saam met haar ten tye van die voorval. Hy is verlede jaar van aanranding op haar aangekla, maar dié twee het buite die hof geskik en die saak is laat vaar. Daar word nou weer ‘n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer ondersoek, nadat sy van die balkon geval het, maar niemand is nog in verband met die voorval aangekla nie.

Nie net het Joubert ernstige kopbeserings tydens die val opgedoen nie, sy het ook haar bekken en vyf van haar ribbes gebreek. Haar ma, me. Celia Joubert, het Donderdag by navraag gesê dat, hoewel sy nog in ‘n koma is, sy bietjie meer wakker is.

“Sy verduur egter baie pyn. Die dreineringspypies is darem uit haar brein gehaal, maar daar is nog ligte swelling en bloeding.”
Dokters het aan Celia gesê dat haar dogter eers buite gevaar sal wees as sy heeltemal wakker is en van die ventilator (wat vir haar asemhaal) gespeen is. “Hulle sal ook eers dan kan bepaal of sy breinskade het,” het Celia bygevoeg.

Rooi sperband is nog onder om die pilare by die deel van Hillside Manor waar Joubert geland het, gespan. Regskenners met wie Laevelder gesels het en wat verkies om anoniem te bly weens professionele redes, het genoem dat hulle dit vreemd vind dat die polisie bloot ‘n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer ondersoek, en nie een van poging tot moord nie.

“Gewoonlik word ‘n verdagte op ‘n meerdere klag aangekla en kan dan altyd op ‘n mindere klag skuldig bevind word. As ‘n mens Amanda se beserings in ag neem, moet daar eintlik ‘n saak van poging tot moord ondersoek word.”

Nelspruitse speurhoof kol. Gerrie Agenbag was teen druktyd nie beskikbaar vir kommentaar nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button