MALALANE – ‘n Man is gistermiddag laat tydens ‘n huisroof geskiet toe twee mans hom en sy gesin op ‘n kleinhoewe buite Malalane oorval het.
Provinsiale polisiewoordvoerder kol. Leonard Hlathi, kon teen druktyd nie die mense identifiseer nie. Hy het ook nie geweet hoe oud hulle is nie. Hy het vertel dat ‘n man, vrou en hul dogtertjie in hul kombuis gesit het toe twee gewapende mans omstreeks 17:00 toegeslaan het.
Die bo-deur was oop en die twee verdagtes het oor die onderdeur gespring. Die vrou en hulle dogtertjie het opgestaan en gevlug na elders in die huis. Een van die verdagtes het hulle agterna gesit en die dogtertjie gegryp.
“Haar ma het by die man gepleit om haar eerder dood te maak en haar kind te los. Hy het toe die dogtertjie laat gaan,” het Hlathi vertel.
Die man is intussen geskiet. Die rowers het met ‘n skootrekenaar, twee selfone en brandewyn op die vlug geslaan. Die polisie is ontbied en hulle het die nabye suikerrietplantasies gefynkam waar hulle op onder andere drie skootrekenaars en klere afgekom het.
Die man is na Mediclinic Nelspruit gebring. Sake van poging tot moord en huisroof word ondersoek.
