Hard newsNewsNewsUpdate

Amanda Joubert word wakker uit haar koma

Dokters sê dat sy intensiewe fisioterapie en rehabilitasie sal moet ondergaan en dit mag dalk tot twee jaar duur voordat sy weer normaal sal kan funksioneer

NELSPRUIT – Me. Amanda Joubert het Saterdag na 17 dae in ‘n koma uiteindelik bygekom. Hoewel daar ‘n lang pad na herstel op haar wag, lyk dit nie op hierdie stadium of daar enige blywende breinskade sal wees nie en haar ma, me. Celia Joubert, is verheug.

Amanda (23) het verlede maand ernstige kopbeserings en verskeie frakture opgedoen nadat sy van ‘n balkon in Hillside Manor afgeval het. Volgens haar ma was sy amper breindood toe paramedici van Netcare 911 haar op 16 Januarie omstreeks 04:00 daardie oggend by Mediclinic Nelspruit aangebring het en haar gesin het die ergste gevrees. Haar toestand was deurgaans kritiek, maar stabiel.

Sy het Saterdag uiteindelik wakker geword en haal nie meer met behulp van ‘n ventilator asem nie. Sy kan niks van die val onthou nie. “Sy onthou sy het daardie aand gaan pizza koop en dat sy 19:00 nog met my oor die selfoon gepraat het. Die dokters sê die brein onderdruk dikwels trauma sodat die liggaam kan genees. Sy kan dalk later onthou, dalk nooit nie,” het Celia gesê. Sy het selfs vir haar ma ‘n briefie geskryf waarin sy haar bedank het vir alles wat sy doen.

Sy is egter nog onder verdowing en verduur baie pyn. “Sy het geweldige hoofpyn en haar lyf is baie seer omdat sy haar bekken en van haar ribbes gebreek het.” Haar ma het bygevoeg dat sy emosioneel is en baie huil. “Haar korttermyngeheue is bietjie aangetas, maar hopelik sal dit ook verbeter.”

Dokters sê dat sy intensiewe fisioterapie en rehabilitasie sal moet ondergaan en dit mag dalk tot twee jaar duur voordat sy weer normaal sal kan funksioneer. Sy mag nog geen besoekers ontvang nie, maar Celia het almal vir hulle volgehoue gebede en ondersteuning bedank.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button