NELSPRUIT – Mnr. Johan Heunis (57), hoofsuperintendent van verkeer by Mbombela Munisipaliteit, moet weer Vrydag in die hof vir die skietdood van me. Michelle Curgenven (35) in Julie verlede jaar, verskyn.
Heunis word van haar moord aangekla en sy verhoor sal na verwagting Vrydag afskop. Curgenven het saam met Heunis gewerk en hy het na bewering romantiese gevoelens teenoor haar gehad, maar sy wou nie ‘n verhouding met hom aanknoop nie.
Sy is op 4 Julie in haar voertuig in haar motorhuis doodgeskiet. Sy het in die sekuriteitskompleks Tussen Berge saam met haar twee seuntjies gebly. Sy is daardie dag omstreeks 11:00 huis toe en haar huishulp het later vertel dat Heunis ook daar was. Hy het haar (die huishulp) teen 13:00 aangesê om huis toe te gaan.
Mnr. Eddie Prollius, hoof van Mbombela se verkeersafdeling, het Curgenven se pa, mnr. David Meyer, omstreeks 16:54 daardie dag geskakel en vertel dat Heunis hom kort tevore in trane gebel het en gesê dat hy “‘n verskriklike ding gedoen het”.
Curgenven se gesinslede het na haar begin soek en ook die hulp van mnr. Jacques Meiring van Bossie’s Community Justice ingeroep. Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit en die polisie is ook na die toneel en het Heunis daar aangetref. Na ure se onderhandelinge het hy uiteindelik die sleutel tot die huis se motorhuis gegee. Curgenven se liggaam is kort hierna ontdek.
