CrimeHard newsNewsNews

Misdaad vier hoogty in Witrivier

Inwoners geteister deur gewapende roof en motorkapings

Die afgelope drie weke is Witrivier deur ‘n vlaag van misdaad geteister – van gewapende roof tot motorkapings. Veral Impalastraat het deurgeloop. Hier is ‘n inwoner oorval toe hy by sy huis aankom en sy motor voor sy hek gekaap is. In dieselfde straat is ‘n vrou deur gewapende rowers oorval en voor haar kinders vasgebind, terwyl die mans hulle besittings weggedra het. Volgens mnr. Hennie Potgieter, algemene operasionele bestuurder Hi-Tech Witrivier, is meeste van die voorvalle as gevolg van inwoners se nalatigheid.

“Die mense se veiligheid is in ‘n groot mate van hul ingesteldheid en houding teenoor misdaad afhanklik,” meen Potgieter. “Hulle word heeltyd oor die realiteit daarvan deur middel van koerante, televisie en radioberigte ingelig. Tog bly hulle agtelosig as dit by hulle doen en late in en om hul wonings kom.”

Daar is ‘n hele aantal basiese vrae wat jy jouself moet afvra as dit by jou woning kom, soos of jou besittings van die straat af sigbaar is. Dis ‘n uitnodiging vir diewe as hulle die items sien rondlê, soos ‘n handsak op ‘n kombuistafel of ‘n toonbank.

Hoe maklik is dit vir ‘n booswig om vir water by jou voordeur te kom vra? Toevallig is dié versoek een van die mees algemene verskonings wat kriminele gebruik om meer van jou en jou huis te wete te kom.

Besit jy ‘n alarmstelsel, ‘n waghond, veiligheidsligte of enigiets wat ongewenste persone kan afskrik? Het jy ‘n afskrif van jou bestuurslisensie, ID en jou selfoon se reeksnommer, ingeval jou huis beroof word. Sulke afskrifte kan jou oneindig baie frustrasie spaar as dit kom by die vervanging van dokumente en versekeringseise.

Dit is al menigmaal bewys dat agt uit elke 10 huisrowe as gevolg van inligting wat deur ‘n huishulp of tuinjong verskaf is, gebeur het. Die gewildste tyd wanneer inbrake plaasvind, is tussen 19:00 en 21:00 wanneer die inwoners rustig begin raak, besig is om kos te maak of TV te kyk. Wapens word in 95 persent van alle aanvalle gebruik en ‘n skokkende 30 persent van vandag se huisrowe word deur oudmisdadigers wat al voorheen moord gepleeg het uitgevoer, en nie sal huiwer om dit weer te doen nie. Teen die tyd dat die kriminele op jou huis toeslaan, het hulle dit ten minste twee weke lank dopgehou en ook jou sekuriteitsfirma se reaksietyd.

Potgieter het vir lesers ‘n paar nuttige wenke gegee. Maak seker dat daar nie ‘n wegkruipplek in jou tuin is nie. Moenie items soos lere en grawe buite laat rondstaan nie, want dit kan gebruik word om by jou huis in te kom. Skelms wil nie gesien word nie; dus is die gebruik van buiteligte belangrik. Dit help ook jou sekuriteitsmaatskappy om te sien of iemand in die erf is.

Honde is ‘n afskrikmiddel omdat hul geblaffery die rowers steur en dit kan veroorsaak dat hulle eerder iewers anders gaan. Dit is belangrik dat jy jou dier moet leer om nie kos van enigiemand te neem nie. Leer hom om uit ‘n spesifieke bak op ‘n spesifieke plek te eet. Dit kan voorkom dat hy vergiftig word.

“n Belangrike wenk om te onthou,” sê Potgieter, “is om jou daaglikse roetines gereeld af te wissel. Ry ‘n ander pad huis of werk toe. Moenie altyd dieselfde tyd daar opdaag nie.

“As jy wel ‘n verdagte persoon of voertuig by jou huis of in jou straat sien, stel jou sekuriteitsfirma en die polisie daarvan in kennis en vra hulle vir ‘n verwysingsnommer.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button