NELSPRUIT – ‘n Adjudant-offisier wie se dienspistool by hom weggevat is, juis omdat hy depressief was, het bloot ‘n ander polisievuurwapen bekom en homself daarmee om die lewe gebring.
AO Neil Galant het homself Saterdag by die wateropgaartenk in Steiltes geskiet. Laevelder het betroubaar verneem dat Galant depressief was en dat sy dienspistool om dié rede teruggevat is. Hy het na bewering Saterdag net na 03:00 bloot na die aanklagkantoor by die Nelspruit-stasie gegaan, ‘n ander vuurwapen uitgeteken en homself daarmee geskiet.
Kol. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, het by navraag bevestig dat Galant se dienspistool by hom afgevat is. “Ons is tans besig met ‘n ondersoek om te bepaal hoe hy dit reggekry het om ‘n ander vuurwapen te bekom. Ek kan nie die besonderhede daarvan bekendmaak nie, omdat dit intern hanteer word.”
