
NELSPRUIT – “Ek kan nie genoeg na haar kyk nie. Ek sien God se skepping in haar!” So beskryf Petronel Niewoudt van Care for Wild Africa die twee-maand-oue seekoeikalf, Emma wat sedert 19 Desember huis en haard met die Niewoudt-gesin deel.
Sy is op 19 Desember deur die Mpumalanga Tourism en Parks Agency (MTPA) uit ‘n sementgat in KaNyamazane gered. Lees die oospronklike berig hier.
Deesdae geniet sy die aandag van Niewoudt en ander vrywilligers by die rehabilitasiesentrum. Hulle beskryf haar as uiters liefdevol teenoor mense. Niewoudt se assistent Angelique de Klerk sê: “Sy is die ideale cuddle-buddy.”
“In my lewe sou ek nooit kon dink hoe geheg ek aan ‘n seekoei kan raak nie,” sê Niewoudt. Dit is vir haar opmerklik hoe intelligent die jong seekoei is. Sy reageer op haar naam en geniet speletjies met mense asook Niewoudt se honde. “Oe, sy hou baie van Goofy, ‘n Weimeraner, en druk hom soms vas teen die grond met haar kop!”
Jong seekoeie is permanent in die geselskap van hul ma’s volgens Niewoudt wat, nou met die hulp van de Klerk, hierdie rol moet vervul. Die besluit om Emma nie in ‘n hok te hou nie is op dag een geneem, en nou karjakker die klein grys lyfie te heerlik in ‘n dammetjie langs die Niewoudt-gesin se huis. Dan slaap sy ook nog ‘n groot gedeelte van die dag, gewoonlik uitgestrek op die rusbank in Niewoudt se kantoor. “Ons sal later moontlik ‘n bulletjie aanskaf en die tweetjies êrens op die plaas vestig.” Dit is al wat nou oor Emma se toekoms gespekuleer kan word.
Bo en behalwe die aandag wat sy vereis, benodig die dier ook ses liter beesmelk per dag. “Ons sal enige skenkings ten opsigte van volroommelk waardeer,” aldus Niewoudt wat verduidelik dat Emma nog vir ten minste agt maande so gevoer moet word. Met so ‘n lekker dieet het die kalfie sedert haar redding al 25 kg opgetel en laat die skaal nou al amper op 65kg kreun.
“Man, sy is my splinternuwe hart se punt!” sê Niewoudt, wat nie uitgepraat kan raak oor die wonderlike eienskappe van haar nuwe “baba” nie. “Om die waarheid te sê, sy gee mens energie. Haar sorg put mens nie uit soos sommige ander diere nie.” Daar is ook geen aggressie by Emma te bespeur nie. “Sy is beslis nie soos die klein renostertjies nie,” meen Niewoudt wat bekend is vir haar versorging van renosters wat as gevolg van stroping wees gelaat is. Sy is nou van mening dat seekoei-aanvalle bloot ‘n geval is van “mense wat op die verleerde tyd op die verkeerde plek is.”
Almal by die sentrum is dit eens – Emma sit ‘n glimlag op jou gesig en laat jou vergeet van die sorge van die wêreld, “Selfs vier uur die oggend as sy bo-op jou wil lê in die bed!” erken de Klerk met ‘n glimlag. “Ja,” voeg Niewoudt by,”Sy fluister heeldag vir ons soentjies.”

Besoek Care for Wild Africa se Facebook-blad en kontak hulle gerus met skenkings van volroommelk vir Emma.
Hier is beelmateriaal geneem met ‘n GoPro-kamera van Emma in die water saam met Petronel:

