CrimeHard newsNewsNewsUpdate

Victor Wilkens van rehabilitasiesentrum na Nelspruit gebring

Laevelder het egter betroubaar verneem dat Joubert wel 'n verklaring by die polisie afgelê het wat daarop dui dat daar "'n argument tussen haar en Wilkens was"

NELSPRUIT – Mnr.Victor Wilkens (30) word aangekla van poging tot moord op me. Amanda Joubert (23) nadat sy op
16 Januarie van sy woonstel se balkon afgeval het. Hy het gister in die hof verskyn nadat hy van Noupoort-rehabilitasiesentrum in die Oos-Kaap hierheen gebring is.

Joubert sterk nog steeds in Mediclinic Nelspruit aan nadat sy ernstige breinbeserings en beenbreuke tydens die voorval by Hillside Manor opgedoen het. Sy en Wilkens was in ‘n verhouding en hy is verlede jaar van haar aanranding aangekla.

Hoewel dié twee buite die hof geskik het en die saak teen hom laat vaar is, het Joubert se ma, me. Celia Joubert, onraad vermoed en die polisie gevra om weer ondersoek na haar dogter se val in te stel. Nelspruitse polisiewoordvoerder, kapt. Dawie Pretorius, het aanvanklik aan Laevelder gesê dat hulle ‘n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer ondersoek, maar dit is wel later na een van poging tot moord verander.

Joubert het verlede Saterdag uit ‘n diep koma wakker geword. Haar ma het aan die koerant gesê dat haar dogter niks van die voorval kon onthou nie.

Toe Laevelder Saterdag omtrent Wilkens se arrestasie ingelig is, het die koerant haar weer gepols of haar dogter iets kon onthou. “Dit kan ek jou nie sê nie,” het sy gesê. Laevelder het egter betroubaar verneem dat Joubert wel ‘n verklaring by die polisie afgelê het wat daarop dui dat daar “‘n argument tussen haar en Wilkens was”. ‘n Lasbrief is verlede week vir laasgenoemde se arrestasie uitgereik. Hy is in Noupoort, ‘n rehabilita-siesentrum vir alkohol- en dwelmverslaafdes behandel en die polisie op Colesberg is ingelig dat daar ‘n lasbrief vir hom uitgereik is.

Hy is daar gearresteer en lede van die plaaslike polisie het hom gaan haal.

Hulle het Vrydag weer in die Laeveld aangekom en Wilkens het die hele naweek in die aanhoudingselle deurgebring. Laevelder het ‘n aansoek voor die distrikshof se landdros, me. Christa du Plessis gebring om foto’s van hom in die hof te neem. Sy het dit afgekeur.

Wilkens is gister omstreeks 12:20 uiteindelik na die beskuldigdebank saam met tientalle ander beskuldiges begelei. Hy was geklee in ‘n ligblou denim en bruin gestreepte hemp. Sy hare was kort en netjies, maar hy het duidelik dae laas geskeer.

Hy het vir twee familielede wat heelagter in die hof gesit het, geknipoog en geglimlag en het later aan hulle beduie om vir hom sigarette te bring. Sy verskyning voor Du Plessis het skaars twee minute geduur en die saak is tot môre uitgestel sodat sy regsverteenwoordiger, mnr. Coert Jordaan, teenwoordig kan wees. Hy bly tot dan in aanhouding.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button