Chinese vang vis met nette in Kwênadam
BADFONTEIN – Drie Chinese is op heterdaad betrap toe hulle Saterdagaand om 21:00 onwettig met nette vis uit die Kwênadam gevang het. Dit is die tweede keer dat Chinese by dié dam aangekeer is. Volgens mnr. Andries Bezuidenhout, bestuurder van die Badfontein Landowners Internal Safety Services (BLISS), het die beskuldigdes voorgegee dat hulle vis met …

BADFONTEIN – Drie Chinese is op heterdaad betrap toe hulle Saterdagaand om 21:00 onwettig met nette vis uit die Kwênadam gevang het. Dit is die tweede keer dat Chinese by dié dam aangekeer is.
Volgens mnr. Andries Bezuidenhout, bestuurder van die Badfontein Landowners Internal Safety Services (BLISS), het die beskuldigdes voorgegee dat hulle vis met visstokke vang, maar nadere ondersoek het bewys dat daar geen aas was nie.
“Informante het ons ingelig dat daar aan die regterkant van die voertuig ondersoek gedoen moet word,” vertel Bezuidenhout. Volgens hom is groot hoeveelhede vis, wat reeds dood was, in emmers aangetref terwyl lewendige vis steeds in nette gehou was.
Bezuidenhout het die SAPD in kennis van die voorval gestel waarna die verdagtes gearresteer is en die oorblywende visse bevry is. Daar is op visnette, sowel as ‘n bakkie waarmee die verdagtes die vis vervoer het, beslag gelê. Volgens Lydenburg SAPD se kommunikasiewoordvoerder, kapt.
Mabokalata Mashabela, is Chan Chan (39), Yan Xue Huang (44) en Yan Huang Huang (41) op borg vrygelaat. Steelburger/Lydenburg Nuus het egter verneem dat een van die drie in Lydenburg werksaam is en die ander sy eie besigheid in Burgersfort bedryf.
Dit het verder aan die lig gekom dat twee van die aangekeerdes einde verlede jaar by ‘n soortgelyke voorval betrokke was – ook by Kwenadam, maar dat die verdagtes vir ‘n onbekende rede nie beboet is nadat die stasiebevelvoerder opdrag gegee het om hul te laat gaan nie – vermoedelik omdat “die regte kanale nie gevolg is nie”.
Mnr. Themba Mazimba van die Mpumalanga Toerisme en Parkeraad het hierdie voorval bevestig: “Dit blyk of daar iemand is wat omkoopgeld ontvang en so verhoed dat die beskuldigdes op die regte prosedures beboet word,” sê Mazimba. “Niemand kon my antwoord toe ek navrae doen oor die feit dat twee van hierdie drie mans vir ‘n tweede keer weer op vrye voet is nie.
Dit kan nie so werk nie. Daar is ‘n groot probleem by die polisie en iemand sorg dat verdagtes vrygespreek word. Ons vermoed dat daar waarskynlik omkoopgeld betrokke is,” sê Mazimba. Hy het met nadere ondersoek uitgevind dat die bakkie waarop beslag gelê is, aan die beskuldigdes terugbesorg is en hul elk op R1 500 borg vrygelaat is.
