CrimeNews

Nog ‘n aanval op Sabie/Lydenburg-pad

Mense word sterk afgeraai om vir enige rede op dié pad stil te hou.

NELSPRUIT – ‘n Man is Dinsdagmiddag met klippe bestook en beroof toe hy glo van die Sabie/Lyndeburg-pad afgetrek het om medisyne te drink.

Die man het volgens mnr. Jacques Meiring, operasionele hoof van Bossies Community Justice (BCJ) van die pad afgetrek om sy voorskrif-medikasie te neem toe drie verdagtes uit die bosse te voorskyn gekom het. Hulle het die slagoffer se bakkie met klippe bestook. Een klip het die voorste passasiersvenster gebreek. Nog ‘n klip is gegooi, maar het nie die kar getref nie.

Een van die verdagtes het die man by sy venster met ‘n mes gedreig. “Een verdagte het hom met ‘n mes probeer steek, en ‘n ander een het ‘n 9mm-pistool gehad,” het Meiring gesê.

Dit het die slagoffer se aandag afgetrek en ‘n ander verdagte die kans gegee om sy selfoon te gryp en te vlug. Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit en Halls Sekuriteit was saam met BCJ op die toneel. Dié sekerheidsmaatskappye en die polisie se lugvleuel soek sedertien na die drie verdagtes.

Die man is nie beseer nie, maar kon nie gekontak word nie omdat hy nie meer ‘n selfoon het nie. Meiring het motoriste aangeraai om onder geen omstandighede langs hierdie pad stil te hou nie.

“Mense moet glad nie daar stop nie – nie om padkos te eet of vir enige ander rede nie.” Dit is glo die negende voorval van die aard hierdie jaar. Meiring het gesê veral drawwers en fietsryers wat daar oefen moet baie versigtig wees omdat hulle ook geteiken word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button