NELSPRUIT – ‘n Werknemer van Montana Garden Pavilion is Woensdag in ‘n ongeluk op die N4 in Gauteng se rigting dood.
Dit het omstreeks 18:30, net voor die afdraai na Sterkspruit, plaasgevind.
Volgens reddingswerkers op die toneel, het die bestuurder van die bakkie beweer dat ‘n ander voertuig hom van die pad afgedwing het. Hy is links van die pad af en het ‘n sandwal getref.
Een van die werknemers wat agter in die bakkie gesit het, is vermoedelik op slag dood.
Drie ander insittendes, insluitende die bestuurder, is met ernstige beserings na ‘n hospitaal geneem. Die pad was nie gesluit vir verkeer nie. Montana Garden Pavilion se eienaar, me. Diana Ross, was teen druktyd nie vir kommentaar beskikbaar nie.
