SABIE – ‘n Paartjie het verlede week hul eie lewens geneem deur ‘n vriesteenmiddel te drink. Wat die voorval nog meer tragies gemaak het, was die feit dat hulle drie honde-kinders wees gelaat is.
Mnr. Johan de Jager (51) en me. Gugulethu Buthelezi (37) se liggame is Saterdag ontdek nadat hulle vermoedelik reeds Woensdag of Donderdag dood is. Volgens me. Tina Maritz het hulle in ‘n huurhuis op die grond op die Lone Creek-pad gebly.
Sy het verneem dat hulle ‘n brief aan ‘n werknemer by ‘n grafsteenonderneming gegee het om aan die polisie te gaan oorhandig. In dié brief het glo gestaan dat hulle hulself om die lewe gaan bring.
Dit is nie duidelik wanneer die brief aan die polisie oorhandig is nie, maar beamptes is Saterdag na die huis waar hulle op
De Jager en Buthelezi se lyke afgekom het.
Mnr. Sifiso Buthelezi, Gugulethu se broer, het vertel dat hulle ‘n vriesteenmiddel gedrink het. Dit was glo so in die brief aangeteken. “Hulle is in verskillende slaapkamers aangetref. Ek dink hulle het erge finansiële probleme gehad omdat De Jager nie gewerk het nie,” het hy vertel.
Maritz het gesê dat dit duidelik was dat dié twee in haglike omstandighede gebly het. Daar is ook drie honde op die werf gevind. “Een van die honde was maer en uitgeteer met sere aan sy pote, maar die ander twee was baie goed versorg,” het Maritz bygevoeg.
Sy het me. Annelize Coetzer van Pro Life Pet Rescue Sabie geskakel en sy het die honde kom haal. Maritz het vermoed dat die uitgeteerde hond vermoedelik uitgesit moes word. Coetzer het wel ‘n e-pos uitgestuur met foto’s van die ander twee honde – Labrador-kruisings – en gevra of mense hulle tydelik kon huisves.
Hulle was tydelik by ‘n “pleeghuis”geplaas, maar Coetzer was teen druktyd weer op soek na ‘n ander heenkome vir hulle. Diegene wat sou belangstel om die honde te huisves, kan Coetzer by 084-764-9066 skakel.
