Hard newsNews

Agt maande van pyn vir Mnr Naudé by staatshospitaal

‘n Man wat met ‘n ontwrigte skouer 33 kilometer ver na die dorp se hospitaal moet loop, kan steeds na agt maande, nie by dié staatsinstansie geholpe raak nie.

LYDENBURG – Mnr. Cobus Naudé (27) het sy skouer tydens ‘n motorfietsongeluk onwrig. Hy was op pad na sy vorige werk by Twee Riviere-myn, waar hy ‘n operateur van swaarmasjinerie was.

“By die hospitaal het het hulle vir my gesê dat my skouer ontwrig is en dat ek ‘n operasie sou moes ondergaan. Ek was vir drie weke afgeboek. Dit is nou reeds agt maande later en ek sit steeds met ‘n pynlike besering waarvan die bene teen mekaar skuur. Ek het my werk as gevolg daarvan verloor en kan ook nie ‘n ander een kry nie. Mynwerk is al wat ek ken en al wat ek kan doen. Ek word telkens as medies ongeskik verklaar sodra ek vir X-strale moet gaan. Hulle (die personeel) keer my met alles. Ek het drie kinders vir wie ek moet sorg.”

Hy vertel dat die toppunt was dat hy verlede Woensdag weer hierdie afstand na die hospitaal moes aflê. “Ek het net na 10:00 by die hospitaal opgedaag. Ek moes die hele dag in die ry sit. Die nagskof- en middagpersoneel het gekom en gegaan. Toe ek uiteindelik by die dokter uitkom, het hy my lêer na my toe geskuif en gesê dat dit nou te laat was om ‘n chirurg vir ‘n datum te bel. ‘n Enkele telefoonoproep neem nie agt maande nie. Ek het eers na 18:00 uit die hospitaal gekom.

“Ek kan nie in die aand terugloop plaas toe nie en moes by mense oornag. Ek is huis toe met Panado’s en Deep Heat. Vir laasgenoemde is ek allergies. Dit is ook so aangeteken in my lêer.”

Naudé het ‘n afspraak gemaak om die hoof-uitvoerende direkteur van die hospitaal, mnr. ML Mogane te sien. Die koerant het hom na die onderhoud vergesel. Mogane het egter met die aankoms gesê dat hy nie met die media mag praat nie. Toe die Steelburger/Lydenburg Nuus hom vra om sy hoof van departement te skakel om toestemming te kry vir ‘n onderhoud was sy antwoord: “Nee, jy kan bel.”

Mogane het wel vir Naudé en sy verloofde, Aletta te woord gestaan. Hy het glo tydens die onderhoud Naudé se identiteitsdokument na hulle toe teruggeskuif en gesê aangesien hy die media gekontak het, hy nie verdere aandag aan sy klagte sou skenk nie.

Steelburger/Lydenburg Nuus was geskok oor die toestand van die wagkamer. Rye mense sit en wag vir ure aaneen sonder om geholpe te raak. ‘n Personeellid soek telkens skoor met pasiënte en tart hulle deur aanhoudend te vra: “Waar is jou bloukaart? Jy moet ‘n bloukaart hê. Nee gaan soek jou bloukaart.”

Die koerant het ook verneem dat ‘n pasiënt ‘n dag te vore ‘n toeval in die wagry gehad het. Verpleegpersoneel het bloot bo-oor hom geloop en ander pasiënte moes hom op sy sy draai en probeer stabiliseer.

“Dit was baie erg. Die man het gelê en ruk en hulle het niks gedoen nie,” het een van vele besoekers laat hoor. Meeste van hulle word elke keer weggewys om die volgende dag weer terug te kom.

Steelburger/Lydenburg Nuus het navrae oor die voorval aan mnr. Ronnie Masilela van Mpumalanga se departement van gesondheid gerig. Hy het teen druktyd glad nie op enige van die vrae rondom die bestuur van die hospitaal en Naudé se klagtes gereageer nie.

Meer oor hierdie tipe besering:

Volgens Doctor Shoulder se webtuiste bestaan die skouergewrig uit ‘n bal (humeruskop) en potjie (glenoïed) gewrig. Die bal word in die potjie gestabiliseer deur ‘n kraakbeen-rand of labrum (wat lip beteken) en die ligamente van die skouer wat op die labrum vasheg.

Gewoonlik vind dislokasie na anterior (vorentoe) plaas. Vir hierdie om plaas te vind, moet die arm na agter en boontoe geforseer word wat daartoe lei dat die skouerpotjie na vorentoe uitgly. Gedurende die eerste dislokasie word die labrum en die ligamente van die glenoïed afgeskeur en dit word ‘n Bankart-letsel genoem. Soos die bal oor die potjie gly, druk die voorste rand van die potjie gewoonlik ‘n gat in die bal se agterkant (Hill-Sachs-letsel).

Die pasiënt wat ‘n Bankart-letsel het, benodig gewoonlik ‘n operasie waar die dele wat afgeskeur is, weer aan die been vasgewerk word aangesien hierdie letsels gewoonlik nie vanself genees nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button