NELSPRUIT – ‘n Weermag-korporaal het Maandag in die plaaslike hof verskyn op klagtes van bedrog. Klp. Richard Msiza (31) is Maandag borgtog van R1 000 toegestaan.
Hy is Donderdagmiddag by Koenic Wheel Wharehouse deur die polisie gearresteer nadat hy glo voertuigbande gekoop het met ‘n kaart wat vermoedelik nie aan hom behoort nie.
Volgens mnr. Jacques Meiring, operasionele hoof van Bossies Community Justice (BCJ) wat op die toneel was, het Msiza ook Woensdag bande by Koenic probeer koop, maar die betaling is deur die bank geweier.
Die volgende dag het hy bande ter waarde van R10 400 gekoop, maar die winkelassistent het opgemerk dat die kaartnommer waarmee hy betaal het, dieselfde was as dié van iemand wat skaars ‘n halfuur tevore ‘n transaksie beklink het. Meiring is ontbied en het Msiza op die toneel aangetref.
Volgens Meiring lyk dit soos ‘n Standard Bank-kaart, maar die kode daarop is dié van ‘n garage-kaart. Die man is na wat verneem word ‘n korporaal in die weermag.
BCJ, ‘n bank se teen-bedrogeenheid en die polisie was op die toneel. Msiza verskyn weer op 26 Maart in die hof.
