
NELSPRUIT – Die naam van ‘n bekende plaaslike prokureur is vroeër die maand van die rol geskrap. Die Prokureursorde het bevestig dat die Noord-Gauteng Hooggeregshof op 4 Februarie gelas het dat mnr. Frans Durandt van den Berg nie verder sy beroep mag beoefen nie.
Die hof het bevind dat Van den Berg hom skuldig gemaak het aan onprofessionele, oneerbare en onwaardige optrede deur nie die ongeveer R11,5 miljoen wat in sy trustrekening vir die koop van ‘n eiendom inbetaal is, aan die deponeerders binne ‘n redelike tydperk terug te betaal nie.
Mnre. Johan Matthysen en Marius Nel sowel as Bang Jan Eiendomme het die geld in Van den Berg se trustrekening gedeponeer vir die koop van ‘n eiendom van Stony River Properties 53 deur Auction Alliance. Op regsadvies van hul prokureurs, Du Toit-Smuts & Mathews Phosa, het die klaers egter die geld teruggeëis omdat geen geldige verkoopskontrak bestaan het nie.
Daar is bevind dat Van den Berg nie binne ‘n redelike tydperk op die kommunikasie gereageer het nie, dat hy sonder wetlike rede die betaling van die trustgeld uitgestel het, dat hy nie die geld binne ‘n redelike tydperk terugbetaal het nie, dat hy nie verseker het dat ontrekkings uit die rekening gemaak is slegs vir óf aan óf namens die krediteur nie, dat hy nie genoegsame fondse in die rekening gehou het om sy verpligtinge aan krediteure na te kom nie, dat hy nie binne ‘n redelike tydperk aan die klaers oor die bedrae wat hy ontvang het verslag gedoen het of betaal het rakende die saak nie. Van den Berg het ook nie bewys dat die geld wat hy uit die rekening vir sy fooie vir werk verwant aan die saak onttrek het, wel so ooreengestem is met die krediteure nie.
Hy mag by regte van die uitspraak nie sy trustrekeninge hanteer nie. ‘n Kurator is aangestel om dit sowel as ander rekeninge waarin dié geld gedeponeer mag gewees het, te administreer. Hy moet ook alle dokumentasie van inligting oor geld gehou, betaal en belê aan die kurator oorgee sowel as details van enige boedels, likwidasies, trusts wat hy hanteer het. Die geld moet verhaal word sodat enigiemand wat geld uit die trust geskuld word betaal kan word.
