
BURGERSFORT – Terwyl baie plaaswerkers in die omgewing verheug is oor die onlangse minimumloon-verhoging, voel sommige boere egter moedeloos.
Die minister van arbeid het aangekondig dat die nuwe minimumloon vanaf 1 Maart in werking sal tree. Die aanpassing dui daarop dat werknemers wat nege uur per dag werk, R12,46 per uur, R558,60 per week of R2 420,41 per maand moet ontvang.
Van die boere in die omgewing voel egter dat die verhoging sal veroorsaak dat arbeid weereens verminder sal moet word. “Hoe anders sal ons die pot aan die kook kan hou? Ons kan nie bekostig om sulke salarisse te betaal nie,” het ‘n boer aan Steelburger/Lydenburg Nuus vertel.
Die man wou nie sy identiteit bekend maak nie, omdat hy die staat en kriminele se aksies vrees.
“Boere gaan gedwing word om plaaswerkers op dagkontrakte aan te stel en hulle te gebruik soos hulle benodig word,” het hy gesê.
Phaswane Tladi, direkteur vir inspeksie en wetstoepassingdienste in Limpopo, het gesê dit gaan om te wys hoe ernstig die departement is om te verseker dat die lewensgehalte van kwesbare werkers drasties verbeter.
Die boer het ook verklap dat sommiges steeds werkers sal aanstel en reken dat daar baie werklose mans is “wat teen ‘n bekostigbare prys sal werk sonder om te kla”.
Tladi sê dat diegene wat die instruksies ignoreer, egter met die wet te doene sal kry. “Daar is ‘n beplande blits-inspeksieprogram wat op boere dwarsdeur die provinsie sal fokus. Hiervolgens sal elkeen ondersoek word,” waarsku Tladi.
Hy meen dat niemand die inspeksie sal kan vermy nie. “Ons het ‘n databasis van al die problematiese boere in die provinsie. Ons inspektoraatspan is deeglik ingelig en sal ons plan volg,” sê Tladi.
Die boer reken ook dat die departement as ‘n direkte gevolg van hul aksies die werkloosheidsyfers sal verhoog. “Suid-Afrika gaan ander lande waar daar slegs van masjiene gebruik gemaak word, se voorbeeld begin volg. Op die lang duur sal dit baie goedkoper in sekere landboubedrywe uitwerk. Baie mans sal op dié manier hul werk verloor.”
