LHS-atlete kook by vanjaar se interhoër
Toe die son nog ver van op was en Lydenburg nog rustig geslaap het, het atlete reeds van vroeg af hul vere begin regskud vir een van die grootste gebeurtenisse op die skoolkalender.
LYDENBURG – Toe die son nog ver van op was en Lydenburg nog rustig geslaap het, het atlete reeds van vroeg af hul vere begin regskud vir een van die grootste gebeurtenisse op die skoolkalender.
Dit was eindelik tyd vir Interhoër 2014. Met groot verwagtinge en goeie gees het die 200 atlete en 550 toeskouers die dag gegroet en min geweet waarmee hulle sou terugkeer. Die laeveldse hitte het vir vuurwarm vertonings gesorg en Lydenburg se Isak Beytel en Dineo Tshela het behoorlik hul staal gewys deur twee rekords te verpletter.
Beytel in die 110m hekkies vir seuns O/16 en Tshele in die 1 500m, dogters o/15. Hiermee verower hul die trofeë vir beste hekkiesatleet en beste middelafstande onderskeidelik. Die atletiekspan het tweede geëindig met ‘n groottotaal van 1 288 punte en verower daarvoor die Plaat toekenning.
Dit was egter nie net óp die veld waar uitgeblink is nie, maar ook lángs die veld. Lydenburg het die sangbeoordelaars se oog onmiddelik gevang en alhoewel die skool derde geëindig het in die sang kategorie, was dit die gees van hierdie 550 leerlinge wat onmisbaar was. Lydenburg is hiervoor beloon en eindelik gekroon met die Spirit of Absa titel.
