Hard newsNewsNews

Voertuie ly groot skade toe water met brandstof meng

Die vulstasie het volle verantwoordelikheid aanvaar en elke verbruiker wat skade gely het, is met 'n vol tenk, gepaardgaande met die kostes van herstelwerk by 'n handelaar van hul keuse, vergoed, wat 'n totaal van R45 000 uitgemaak het

WITRIVIER – ‘n Aantal van 16 voertuie is beskadig toe brandstof by ‘n plaaslike vulstasie tydens die swaar reën met water besmet is.

Omdat dit digter as brandstof is, gaan lê dit heel onder in ‘n tenk. Dit veroorsaak dat water, hetsy in ‘n motor of by ‘n vulstasie, eerste uitgepomp word en in die enjin beland.

Die voertuie is beskadig nadat motoriste hul tenks by Caltex laat volmaak het. Mnr. Llewllyn Nel, eienaar van die vulstasie, het verduidelik dat hulle gereeld die brandstof nagaan om te verseker dat daar geen water in is nie. Dit word soggens en smaddags getoets wanneer die petroljoggies skofte ruil. Dié proses staan bekend as “dipping”. Op 5 Maart omstreeks 18:00, net voor ‘n woeste storm begin woed het, is dit weer getoets en is geen water opgespoor nie.

Die volgende dag teen 04:30, het mnr. Juan Strydom Caltex besoek om sy Toyota FJ Cruiser se tenk vol te maak. Die voertuig het egter nie aangeskakel nie en die toesighouer, mnr. Tom le Roux, is onmiddellik in kennis gestel. Om 05:30 is alle dienste by die vulstasie gestaak om te bepaal wat die oorsaak was.

Hulle het weer vir water getoets en gevind dat een van die ondergrondse tenks wel besmet was. Dit is dieselfde dag gesluit om die pype skoon te maak.

Talle ander motoriste het egter dieselfde probleem ondervind nadat hulle daar brandstof laat ingooi het. Na verdere ondersoek het Le Roux bevind dat daar steeds water in die pype was. Die vulstasie het volle verantwoordelikheid aanvaar en elke verbruiker wat skade gely het, is met ‘n vol tenk, gepaardgaande met die kostes van herstelwerk by ‘n handelaar van hul keuse, vergoed, wat ‘n totaal van R45 000 uitgemaak het.

Nel het verder verduidelik dat ‘n drein wat met plastieksakke, blare en ander rommel verstop was ,veroorsaak het dat massas water Caltex se perseel oorvloed het. Dit kan nie die brandstof in die tenks direk betree nie, maar wanneer die mangat oorvol raak, word die kanse van besmetting vermeerder. Die stasie is tans in die proses van opgradering, wat insluit, onder andere, tenks wat geskuif word, wat dan ook die kans vir soortgelyke voorvalle sal verminder.

“Ons verwag dat dit in Junie afgehandel sal wees. Intussen sal ondersoeke meer gereeld gedoen word en water sal daagliks uit mangate gepomp word, veral in die geval van swaar reën,” het Nel gesê.

Hy het ook verskoning gevra vir enige ongerief wat veroorsaak is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button