BURGERSFORT – “Fosteristraat wat verby die Magaba-vulstasie loop was inderdaad eens ‘n teerpad,” sê mnr. Carl Lourens, eienaar van die vulstasie.
Klaarblyklik is die pad, wat oor die treinspoor geloop het, toegemaak na mense “chicken” met die trein gespeel het. Ten spyte hiervan is die pad steeds gebruik om toegang tot die winkels in die Osmond-gebou – ‘n begrafnisonderneming, woonstelle, ‘n gastehuis en Telkom se persele – te verky.
Vandag lyk die pad egter na ‘n baie slegte grondpad. “Ek het jare gelede ‘n klagte oor die pad by die plaaslike Greater Tubatse Munisipaliteit (GTM) ingedien. Stadsraadpersoneel het egter volgehou dat die pad nie ‘n straat is nie. Ek het in hulle kantore op hul kaart vir hulle gewys dat dit wel ‘n straat is en daarom deur hulle onderhou moet word,” vertel Lourens.
Hy sê ook dat versekeie sakemanne in November verlede jaar ‘n vergadering met die burgermeester, mnr. Nkosiyabo Josias Mahlake, gehad het om probleme te bespreek. “Onder andere was die strate tussen Magaba-vulstasie en Marone-sentrum ter sprake. Daar is begroot vir die strate maar die werk is nooit gedoen nie. Mahlake het belowe dat dit gedoen sal word maar vier maande later is het daar steeds nog niks gebeur nie,” sê Lourens.
Hy het toe besluit om die pad self met grond te herstel sodat sy klante makliker toegang tot sy besigheid kon kry. “Ons moet die pad self in stand hou om kliënte te behou. Die grond spoel weg met die reën en dan word die pad net weer sleg. Dit is die munisipaliteit se verantwoordelikheid en hulle moet hul pligte net eenvoudig nakom,” sê Lourens.
Hy meen egter dat hulle sal oorweeg om stappe teen die plaaslike regering te neem indien hul pleidooie aanhou om op dowe ore te val. “Dit is skokkend om te verneem dat ongeveer R29 miljoen wat vir paaie geoormerk is teruggeneem is omdat die stadsraad dit nie gebruik het nie. Daar is mense wat salarisse kry maar hulle volg nie tenderprosedures en kry dus nie die werk gedoen nie. Dus het hulle nie die fondse aangewend nie en is dit deur tessourie teruggetrek,” vertel Lourens.
Hy versoek dat die munisipaliteit sy pligte moet nakom deur die pad te herstel en te teer.
Die haglike toestand van die pad is ook nie iets nuuts vir inwoners nie. Verskeie paaie in die dorp versleg daagliks en slaggate maak dit byna onmoontlik om hierdie paaie te gebruik.
Die koerant het mnr. Thabiso Mokoena, woordvoerder van GTM vir antwoorde rakende die situasie gevra. Hy het geen kommentaar teen saktyd Dinsdag gelewer nie.
