‘n Inwoner van ‘n sekuriteitskompleks in die stad is moedeloos omdat dit blyk dat sy magteloos is teen ‘n buurman wat Sondag ‘n kat in haar erf met ‘n windbuks doodgeskiet het.
Sy het anoniem met Nelspruit Post gesels, uit vrees vir viktimisasie. “Ek bly al vier jaar in hierdie kompleks in Stonehenge. Aanvanklik mag ons troeteldiere daar aangehou het, maar in Junie 2012 het die opsigters gelas dat bestaande diere daar mag bly, maar dat hulle nie nuwes sou toelaat nie omdat hulle te veel probleme veroorsaak het.
“Daar was eienaars wat nie hulle honde of katte in hul erwe kon hou nie en die diere het rondgeloop en swartsakke geskeur,” het die inwoner vertel.
Sy het bygevoeg dat daar op ‘n stadium ‘n geweldige probleem met rondloperkatte was, maar dat die opsigters die regte roete gevolg het deur by die DBV te gaan aanklop om hulle te help verwyder.
“Ek hoor al ‘n geruime tyd ‘n klap-geluid van ‘n windbuks naby my en sien dan swerms voëls wegvlieg.” Sy het Saterdagmiddag ‘n grys gestreepte kat op een van haar mure opgemerk. Sondag omstreeks 15:15 het sy weer die klapgeluid gehoor, ‘n kat hoor skree en buite gaan ondersoek instel. Sy het die een wat sy die vorige dag daar opgemerk het, dood op haar grasperk gekry.
“Ek het dadelik besef dat die kat met ‘n windbuks doodgeskiet is en het die opsigters in kennis gestel. Hulle het genoem dat hulle weet dat een van my buurmanne met ‘n windbuks skiet en dat hy selfs ‘n hoender wat hy in sy erf gekry het, geskiet het. Hulle sou egter nie sonder bewyse teen hom kon optree nie.”
Omdat Stonehenge se vullis slegs op Vrydae verwyder word, het die inwoner die karkas na die DBV geneem en die voorval aangemeld. “Een van die inspekteurs het ook vir my gesê dat hulle nie sou kon optree sonder die nodige bewyse nie en dat ek moet poog om die klank van die windbuks op te neem of selfs ‘n video te neem van die buurman wat skiet.
“Dis amper onmoontlik. Ek sien hom nooit met die wapen nie, ek hoor net die knal. Hoe moet ek dit op band vaslê?” wou sy weet. Die inspekteur het haar kontakbesonderhede geneem en belowe om later die week terugvoer te gee.
By verdere navraag het sy vasgestel dat ‘n mens nie ‘n vuurwapenlisensie vir ‘n windbuks hoef te bekom nie en wel daarmee in ‘n woongebied mag skiet.
“Dit beteken ek kan nie ‘n kriminele klag teen hom lê nie. Wat staan my te doen? Ek het ook nie geld om vir ‘n lykskouing by ‘n veearts te betaal om die windbuks se koeël te laat verwyder nie.”
Ander inwoners van die kompleks het hulle kommer oor die voorval uitgespreek en genoem dat hulle bang was dat die man hulle troeteldiere ook sou skiet.