Hard newsNewsNewsUpdate

Oud-Nellie dalk Suid-Afrika se mooiste

Sy is verlede jaar na die streeksuitdunne genooi waar sy vertel het dat sy nie hard probeer het om die beoordelaars te beïndruk nie, maar net haarself was

 

NELSPRUIT – ‘n Voormalige leerling van Hoërskool Nelspruit, Abigail de Jager (19) staan ‘n kans om Sondagaand as die mooiste in die land aangewys te word en die kroon as Mej. Suid-Afrika te dra.

Dit is seker een van die opwindenste tye in haar lewe en sy geniet elke oomblik van die reis. Die finaliste gaan tans in Sun City tuis en Laevelder het op die vooraand van die kroningsgeleentheid met haar gesels.

“Die week is so chilled. Ons het reeds een keer deur die program vir Sondag gehardloop en dit gaan ‘n wonderlike aand wees.”

Sy was eers deel van die top-33 en is op 2 Februarie as een van die 12 finaliste aangewys. Sy studeer tans BCom-bestuurswetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch, en geniet haar studentelewe in die sprokiesdorp. Abi se kamermaat, Mishka Patel studeer ook by Maties en dié twee het reeds by die streeksuitdunne in Kaapstad geklik.

Sy het nie in haar wildste drome gedink dat sy deel van dié gesogte kompetisie sou wees nie. Sy is verlede jaar na die streeksuitdunne genooi waar sy vertel het dat sy nie hard probeer het om die beoordelaars te beïndruk nie, maar net haarself was. Sy het selfs gedurende die onderhoud onbewustelik kougom gekou.

Abigail se ma, Karen, is só trots op haar pragtige dogter. “Sy het eers op hoërskool met modelwerk begin want sy moes besef dat dit nie oor die uiterlike gaan nie, maar oor die innerlike. Ek is bly sy kan die droom wat die Here oor haar pad gestuur het, leef. Ek het nooit kon droom dat ons Sondagaand in die gehoor van die kroningsaand sou sit om na ons dogter te kyk nie,” het sy gesê.

Die bruinoog-donkerkop is gek oor broccoli, dadels, sade en haar gegeurde tee. “Sy en haar oudste sussie het ‘n gesondheidsprogram van Oprah gekyk en van daardie dag, is die twee vreeslik ingestel op gesond eet. As hulle kom kuier, koop ons groente by die dosyne aan.”

Die kroning word Sondag om 17:30 op DStv-kanaal 161, Mzansi Magic uitgesaai. Die nuwe beoordelaars is die voormalige Mej. SA, Amy Kleinhans-Curd; tydskrifredakteur, digter en skrywer, Kojo Baffoe en die model en TV-persoonlikheid, Bonang Matheba, wat ook die plaaslike gesig van Revlon is.

Dié drie sluit by die radio-persoonlikheid, Anele Mdoda en tydskrifredakteur, Pnina Fenster aan.

 Abigail kan die volgende pryse in haar sak steek as sy as Mej. Suid-Afrika gekroon word:

• Volvo V40 T3 – R335 000

• ‘n Volledige gemubileerde woonstel vir ‘n jaar – R240 000

• Africology-prokukte en -spa-geskenkbewyse – R130 000

• Sun International-kontantpryse
– R120 000

• Call It Spring-skoene – R120 000

• Droogskoonmaakdienste – R100 000

• Smashbox-grimering – R90 000

• Professional Impressions selfbeeld- en etiket-opleiding – R80 000

• Sun International Dreams getaway – R80 000

• Cell C-lugtydkontrak – R60 000

• Samsung Galaxy Tab 3 10.1-tablet – R4 000.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button