Hard newsNewsNews

Verdagtes gesoek na plaasaanval

'n Man van Alkmaar het 'n blou oog en verskeie pyne nadat hy en sy gesin in hul huis deur drie gewapende rowers oorval is.

ALKMAAR – “Mense vertel altyd hoe hulle die inbrekers gaan aanvat, maar dit gebeur alles so vinnig. Dis veral moeilik as ‘n mens nog so half aan die slaap is.” So vertel mnr. Nico Botha van die plaas Rietfontein nadat hy en sy gesin Vrydag in hul huis oorval is.

Botha vertel dat hy, sy swaer, dogter en kleinkinders die rugby by Mbombela Stadion gaan kyk het en so 21:30 by die huis aangekom het.

Hy het kort daarna in die bed geklim maar was nie lank aan die slaap nie toe hy glas hoor breek het. Hy het gedink dis sy dogter wat dalk geval en ‘n spiëel gebreek het en het opgestaan om ondersoek in te stel.

Hy het hom egter in drie inbrekers vasgeloop en besef dat hulle ‘n klip deur die venster gegooi het om toegang te verkry. Hulle was nie gemasker nie en twee het vuurwapens gehad. ‘n Stoeiery het ontstaan en hy het op sy rug beland. Die inbrekers het hom na sy dogter se kamer gedwing waar die res van die gesin met skoenveters vasgebind was.

Botha is met sisaltou vasgemaak en een van die aanvallers, wat baie aggresief voorgekom het, het hom met ‘n pistool teen die kop geslaan. Die ander het hom geskop.

Hy het besef dat dit nie sou help om te baklei nie en het besluit om vir hulle “die geld te gee sodat hulle kon padgee”. Die verdagtes het hom na sy kamer, waar die kluis was, geneem en gewere en sy werknemers se loongeld gebuit.

Daarna is hy weer na die ander teruggeneem en die aanvallers het seker gemaak dat almal vasgebind was. Die inbrekers het die huis verder deursoek en selfone, ‘n sakhorlosie en ‘n televisie gebuit. Hulle het in Botha se Mazda gevlug.

Die gesinslede kon daarin slaag om hulself los te wikkel en het hulp ontbied. J&M Sekuriteit het ‘n plaasbeskermingseenheid na die toneel gestuur. Die reaksie-eenheid het die gesteelde voertuig op die Sabie-Lydenburgpad gewaar. ‘n Verdagte het op J&M se voertuig losgebrand waarna die rowers afgedraai het. Een van die beamptes het toe gesien hoe vyf of ses verdagtes uit die voertuig spring en die plantasies in vlug.

Verskeie goedere soos ‘n televisie, selfone, ‘n skootrekenaar, twee gewere en ammunisie is in die kattebak gevind.

Die SAPD se blitspatrollie het ook op die toneel aangekom en die honde-eenheid is ontbied. Die verdagtes kon egter nie opgespoor word nie.

Niemand behalwe Botha is beseer nie. Hy sê dat dit die eerste inbraak by hulle sedert 1969 was. Volgens hom was een van die verdagtes so uitgeslape dat hy oral waar hulle gewerkskaf het hul vingerafdrukke afgewas het.

Botha wil graag sy dank aan veral J&M vir hul hulp en blitsvinnige reaksie uitspreek, asook aan almal wat hulle te hulp gesnel het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button