Hard newsNewsNews

Drinkende minderjariges maak amok

Inwoners is op hol omdat die drinkers nie net minderjarig is nie, maar dit in openbare plekke doen waar hulle raas en mors.

NELSPRUIT – Minderjariges wat in die openbaar drink is besig om inwoners die josie in te maak. Mnr. Chris Oosthuizen wat naby die Van Riebeeckpark-swembad woon, sê seker 80 persent van die mense wat naweke in hierdie parkeerterrein drink, is tieners.

“Ons woon oorkant die pad. Gewoonlik op Saterdae aan die einde van die maand wanneer die weer goed is, kom hulle in hul hordes met koelbokse hier aan.

“Die personeel by Van Riebeeckpark hou hulle uit die swembad uit, maar kan nie veel doen om te keer dat hulle in die parkeerterrein drink nie, aangesien dit ‘n openbare area is.

“Maar dis onwettig om in publieke plekke soos dié te drink,” vertel Oosthuizen. Buiten dat hulle in die openbaar drink én onder die wettige ouderdom is, is daar boonop ook nie toiletfasiliteite in die parkeerterrein nie. Almal doen dus maar sommer hul besigheid op die grasperk daar naby.

Hy het ook vertel dat die polisie Saterdag daar was en ‘n ogie op die kinders gehou het, maar nie veel meer gedoen het nie. Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit was ook op die toneel.

Mnr. Nico Grobler, operasionele hoof, het beaam dat hulle nie veel aan die situasie kan doen nie omdat dit die polisie se jurisdiksie is. “Dit was veel beter toe die swembad vir restourasie gesluit was. Noudat dit weer oop is, is dit veral op Saterdae ‘n probleem.

“Voorheen het ons al saam met die polisie omtrent 18 kinders op een dag gearresteer. Van hulle ouers het hulle dadelik ‘n pak slae gegee toe hulle opdaag. Dit het bietjie gehelp.” Grobler het beaam dat die skuldiges oor die algemeen dronk kinders van tussen 14 en 17 jaar is.

Hoewel niemand aan hulle self drank verkoop nie, kan hul ouer vriende dit dikwels namens hulle bekom. Volgens Grobler maak die kinders ook amok by die naburige The Village SPAR. Die eienaars het bevestig dat hulle nie drank aan minderjariges verkoop nie en dronk persone vra om die perseel te verlaat.

“As groot groepe by die winkel aankom, laat kom ons die sentrum se sekuriteit asook en Hi-Tech en die polisie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button