CrimeHard newsNewsNews

Heunis-moordverhoor: sy regspan volstaan by sy pleitverduideliking

Die skoot wat haar noodlottig getref het, het volgens Heunis afgegaan toe Curgenven die vuurwapen onder sy ken probeer wegvat het

MBOMBELA – Die moordverhoor van ons stad se voormalige waarnemende verkeershoof, mnr. Johan Heunis, het gister in die Rondgaande Hoë Hof hervat.  Sy regspan het verwys na Heunis se pleitverduideliking, wat in November 2014 aan die hof voorgelees is.

Advokaat Piet Pistorius hou aan die hof voor dat daar geen plig op Heunis rus om sy onskuld te bewys nie. “Dit is so in terme van ons Grondwet. Dit is ook in terme van hierdie Grondwet dat mnr. Heunis verkies om sy swygreg uit te oefen. Hy sal nie die getuiebank betree nie.”  Pistorius het die hof versoek om hoë getuieniswaarde aan die pleitverduideliking te heg.  Lees môre se koerant vir meer hieroor.

Laevelder het as volg berig op 4 November 2014:

Mnr. Johan Heunis wat me. Michelle Curgenven verlede jaar doodgeskiet het, wou selfdood pleeg en sy is getref toe sy hom na bewering probeer keer het.

Dit was een van die skokkende onthullings wat gister in die Rondgaande Hoërhof in die stad gemaak is toe Heunis, voormalige verkeershoof van Mbombela Munisipaliteit, skuld op ‘n klag van moord ontken het.

Staatsadvokaat mnr. Johan Coetzee het egter sy pleit verwerp en aangedui dat hy, desondanks die inhoud van sy pleitverduideliking wat aan die hof voorgehou is, steeds van moord aangekla word en nie van strafbare manslag nie. Regter mnr. Peter Mabuse het toegelaat dat Heunis bly sit terwyl die verklaring van 22 bladsye voorgelees is.

Daarvolgens het hy en Curgenven ‘n goeie verhouding gehad wat potensiaal getoon het om in ‘n liefdesverhouding te ontaard. Hy het vir haar en haar twee kinders etlike geskenke gekoop en het spesifiek na ‘n hangertjie wat hy op 10 Mei verlede jaar as geskenk aan haar gegee het, verwys.
Curgenven het egter aangedui dat sy nie romantiese gevoelens heens Heunis het nie en sy het die hangertjie vir hom teruggegee.

Curgenven was met verlof en het op 4 Julie teruggekeer werk toe. Sy en Heunis het sedert 26 Junie 2013 glo nie kontak gehad nie. Volgens sy pleitverduideliking het sy hom daardie oggend (4 Julie) by die werk genader en hom na bewering gevra om saam met haar na haar huis te ry, sodat hulle die voorval rondom die hangertjie kon uitpraat.

Hulle is na haar huis in Tussenberge-kompleks in Steiltes, waar Curgenven glo vir haarself en Heunis ‘n glas wyn geskink het. Curgenven het glo verskoning gevra vir haar aandeel in die voorval voordat sy haar en haar kinders se liefde teenoor hom bevestig het.

Heunis het emosioneel hierop gereageer en is na die motorhuis om sy skootrekenaarsak te gaan haal waarin sy dienspistool gebêre was. Hy wou selfdood pleeg, en het in Curgenven se voertuig geklim en die pistool onder sy ken gedruk. Sy het hom probeer oortuig om dit nie te doen nie. Die skoot wat haar noodlottig getref het, het volgens Heunis afgegaan toe Curgenven die vuurwapen onder sy ken probeer wegvat het. Hy was hierna in ‘n toestand van skok en is weer die huis binne. Hy het die huishulp aangesê om huis toe te gaan en, volgens die pleitverduideliking, is sy herinneringe van die res van daardie middag “sporadies”.

Hy het wakker geword waar hy op die kombuisvloer gelê het. Hy het ‘n kloppende hoofpyn met pynpille probeer stil, ‘n volle agt van hulle. Hierna is Heunis na die kroeg in Curgenven se huis waar hy rum en tequila gedrink het. Die eerste persoon met wie Heunis kontak gemaak het, was mnr. Eddie Prolius, Mbombela se verkeershoof wat reeds 18 maande lank geskors is. “Ek kan nie onthou wat ek alles vir hom gesê het nie,” lui Heunis se verklaring.

Laevelder het vroeër berig dat hy vir Prolius geskakel het en gesê het dat hy “‘n verskriklike ding gedoen het”. Prolius het toe Curgenven se pa gekontak. Bossies Community Justice, Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit en die polisie is gevra om na die huis te gaan.

Daar moes met Heunis onderhandel word om sy dienspistool, ‘n 9mm, neer te sit en homself te oorhandig. Wat vreemd is, is dat hy op die toneel koeldrank aangebied is. Hy wou egter nie daarvan drink nie omdat Prolius na bewering daarvan gedrink en kort daarna sy bewussyn verloor het. Dit het hom senuagtig gemaak.

Die hele week is opsy gesit vir die verhoor en meer as 20 getuies sal na verwagting geroep word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button