Man ernstig gewond na plaasaanval
Die boere buite Barberton sê hulle het nou genoeg gehad en dat daar dringend ‘n plan gemaak moet word om hulle plase en gesinne te beveilig.

Die boere buite Barberton sê hulle het nou genoeg gehad en dat daar dringend ‘n plan gemaak moet word om hulle plase en gesinne te beveilig.
Dit is nadat die 41-jarige Jacques Jordaan Maandagaanddeur drie mans met ‘n haelgeweer geskiet is. Jordaan se plaas is reg oorkant die pad van Loveley Jubley op die R40 geleë. Sy vrou, Jeanetta (41) het Dinsdagoggend met Barberton Times gepraat.
“Omstreeks 20:45, terwyl ek al ‘n geruime tyd geslaap het, het ek wakker geword van my 17-jarige dogter, Jean-Cherie, wat vir my skree ‘Mamma, hulle is hier, kruip weg!’.”
Volgens haar het sy holderstebolder in die gang afgestorm waar sy dadelik die mans opgemerk het en gesien het dat haar man gewond was. Sy het teruggehardloop kamer toe en die windbuks, al waarop sy vinnig genoeg haar hande kon lê, gaan haal.
“Daar was drie swart mans. Die een het onophoudelik daarop aangedring ‘I want guns! I want guns!’ Ek het vir hulle geskree, ‘Ek skiet julle morsdood!”’
Blykbaar kon hulle die haelgeweer waarmee hulle Jacques geskiet het, nie weer gelaai kry nie en het op die vlug geslaan.
“Een het ‘n rooi hemp aangehad, een ‘n groen hemp en die derde ‘n geel hemp. Die man met die groen een was die lengte van ‘n gemiddelde vrou en die een met die geel hemp was besonder lank,” het Jeanetta vertel.
Jacques het vertel dat terwyl hy nog televisie gekyk het, het die deur skielik oopgevlieg. Hy het van die bank af opgespring, maar daar is onmiddellik op hom geskiet en hy is in sy regterskouer getref.
Jeanetta het die deure gesluit en hul buurvrou, dr. Luzaan Grundling dadelik gebel en sy het op haar beurt die SAPS, Hi-Tech en ambulans ontbied.
Die Jordaans het gesê hulle kan nie genoeg dankie sê vir die vinnige reaksie van hierdie amptenare nie. “Dit het gevoel soos minute, toe was almal daar om te help.”
Jacques is dadelik na Mediclinic Nelspruit geneem.
Slegs drie aande voordat Jacques geskiet is, het die gesin onraad vermoed toe daar ‘n harde geluid by hul stoor was. Jacques het gaan ondersoek instel en op al hulle gereedskap, netjies uitgepak, net reg om weg te dra afgekom. Die diewe moes geskrik het en op die vlug geslaan het. Niks is tydens een van die voorvalle gesteel nie. Dinsdagoggend was Jacques nog in die hoësorg-waakeenheid. Sy toestand was stabiel.
