Vandalis teiken bome en plakkate
'n Voorval van vandalisme in Komatipoort verlede week, het groot onsteltenis onder verskeie inwoners van dié dorp veroorsaak.
KOMATIPOORT – ‘n Voorval van vandalisme in Komatipoort verlede week, het groot onsteltenis onder verskeie inwoners van dié dorp veroorsaak.
Alta Triegaardt van Pam Golding Eiendomme, was Donderdagoggend, 17 April op haar rondtes uit om Corridor Gazette by verskeie punte af te lewer toe sy ontdek dat van haar advertensieborde in Gilfillanstraat omgery en beskadig is. By nadere ondersoek het sy ook gevind dat twee vanwykshoutbome, sowel as ‘n ry jong boompies voor Ecolux Boutique Hotel, in dieselfde straat ook doelbewus met ‘n voertuig omgery is.
Die voorvalle het Dinsdagaand, 15 April vir die eerste keer plaasgevind. Die bome is omgery, waarna dit deur die onderskeie eienaars weer die volgende dag opgetel is, met die hoop dat dit sou oorleef. Woendagaand is dieselfde boompies deur dieselfde voertuig weer platgery en so beskadig dat dit nie meer gered kon word nie.
Die twee vanwykshoutboompies is so sewe jaar gelede in Tzaneen by ‘n kwekery aangekoop deur mnr. Dirk Koekemoer en hier kom plant. Koekemoer, ook bekend as die “Boompie-man” is ‘n liefhebber van inheemse bome en het lank gesoek vir die geskikte bome om op sy sypaadjie te plant. Vanwykshoutbome groei baie stadig en die boompies is met groot sorg vertroetel en stutte is baie onlangs eers verwyder omdat hulle nou eers sterk genoeg is om selfstandig regop te staan. Dit is duidelik dat sy bome vir hom soos familie is. Elkeen word vir ‘n spesifieke doel en na deeglike beplanning en navorsing vir ‘n spesifieke plekkie in sy tuin aangeskaf. Die onbesonne daad van iemand wat geen respek vir ‘n ander se eiendom het nie, is genoeg om enigiemand die harnas in te jaag.
Daar is ook Woensdagaand geweerskote gehoor deur inwoners in Gilfillanstraat gedurende dieselfde tyd wat die voorvalle plaasgevind het, maar dit is nie duidelik of die voorvalle verband hou nie.
Inwoners in die omgewing het die wit dubbelkajuitbakkie gesien terwyl die skade aangerig is en die oortreder is deur middel van knap speurwerk deur mnr. Dirk Koekemoer en ‘n vriend opgespoor. Die skuldige persoon het om verskoning gevra en aangebied om te vergoed vir alle skade wat gelei is. Dit is duidelik dat mens nie in Komatipoort gaan wegkom as jy oortree nie.
Alta Triegaardt het gesê dat sy haar advertensieborde al vyf keer die afgelope tyd teen groot onkoste moes vervang. Van haar borde is selfs met ‘n skerp voorwerp deur vandale stukkend gesny. Ander agente het ook al skade gely. Inwoners word gevra om op die uitkyk te wees vir vandale en dit aan Corridor Gazette te rapporteer by 013-790-0651 of layout@corridorgazette.co.za
