
NELSPRUIT – Vermeende werknemers van ‘n kontantleningsonderneming wat Woensdagaand by Crossing-winkelsentrum vasgekeer is, sou na verwagting vandag in die hof verskyn. . Die vier verdagtes was glo in besit van kontant en kaarte wat nie aan hulle behoort nie.
Volgens mnr. Jacques Meiring, operasionele bestuurder van Bossie’s Community Justice (BCJ) wat saam met Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit en die polisie op die toneel was, is 21 kaarte en kontant ter waarde van R11 870 in hulle voertuig gevind.
Die vonds sluit debiet-, krediet- en SASSA-kaarte in. Laasgenoemde werk soos ‘n debietkaart en gee die houer toegang tot pensioen en maatskaplike toelaes.
Ingevolge die kredietwet is ‘n persoon se bankkaart die eiendom van die bank en om met iemand anders se kaart en PIN betrap te word en daarmee geld te trek, is bedrog.
Meiring het vertel dat hy kort na 22:00 deur ‘n ooggetuie verwittig is van verdagtes by ‘n FNB OTM by die Pinnacle-gebou in die middedorp. Volgens hom is die mans daarna ABSA Square toe, maar toe hulle voertuie van BCJ en Hi-Tech sien, het hulle die toneel verlaat.
“Ek het toe besluit ek gaan dit nie net daar laat nie. Ek het hulle op ‘n afstand agtervolg en besef hulle is onderweg na Crossing-winkelsentrum. Ek het op pad by ‘n ongeluk op die N4 gestop en die polisie daar vir bystand gevra.”
Die misdaadbestryders het daarin geslaag om die verdagtes se voertuig op die parkeerterrein vas te keer en hulle in hegtenis te neem.
Daar word vermoed dat hulle vir ‘n kontantleningsonderneming werk wat regoor die provinsie bedrywig is. “Die een het so ewe vir my gesê, hy weet dis teen die wet om geld met ander mense se kaarte te trek,” het Meiring vertel.
Hy het mense gewaarsku dat indien hulle van ‘n leningsonderneming se dienste gebruik maak, hulle nie hul bankkaarte en PIN moet oorhandig nie.
“As jy dit vir hulle gee en hulle trek meer geld uit jou rekening as waarop julle ooreengekom het, is daar niks wat jy daaraan kan doen nie.”
