CrimeHard newsNewsNewsUpdate

Speurhoof slaan range oor tydens bevordering

In 2011 is hy bevorder na luitenant, sonder om ooit in die range van 'n sersant of adjudant-offisier, te dien

WITRIVIER – Die polisie weier om te sê hoekom dié stasie se speurhoof van ‘n konstabel na ‘n luitenant bevorder is nadat hy slegs sowat sewe jaar in diens van die SAPD was.

Lt. Artwell Zungu (30) was Dinsdag voorbladnuus nadat hy verlede Vrydag na bewering dronk bestuur en met nie minder nie as drie voertuie gebots het. Dit alles terwyl hy aan diens was en ‘n staatsvoertuig gery het.

Verskeie bronne het Laevelder toe geskakel en vertel dat Zungu se aanstelling by Witrivier in groot omstredenheid gehul is en groot ongelukkigheid onder kollegas veroorsaak het.

Een van hulle het bevestig dat Zungu in 2004 as konstabel in die SAPD aangestel is. In 2011 is hy bevorder na luitenant, sonder om ooit in die range van ‘n sersant of adjudant-offisier, te dien.

“Hy is na bewering ‘n groot gunsteling van die provinsiale kommissaris, lt.genl. Thulani Ntobela. Die vermoede bestaan dat hulle familie is,” het een van die bronne opgemerk. “Wat ek ook interessant vind, is dat dit reeds gemeld is dat hy nié geskors gaan word hangende die kriminele ondersoek teen hom nie. Dit versterk die vermoede dat hy deur die kommissaris voorgetrek word,” het die bron bygevoeg en verduidelik dat slegs Ntobela by magte is om Zungu te skors.

“Eintlik is dit belangrik dat Zungu geskors word. Al die betrokke getuies weet nou dat hy ‘n offisiersrang beklee en hulle mag dalk huiwerig wees om teen hom te getuig, uit vrees vir intimidasie.”

‘n Ander hooggeplaaste polisie-offisier het by navraag gesê dat Zungu se bevordering “totaal en al ongehoord is”. “Ek kan nog verstaan dat iemand van buite in ‘n hoë rang aangestel word, maar dit is regtig ongewoon dat iemand sommer range oorslaan om bevorder te word. Het Zungu ooit enige noemenswaardige opleiding ondergaan of prestasies behaal om só ‘n bevordering te regverdig?”

Laevelder het verskeie navrae hieroor aan brig. Selvy Mohlala, provinsiale polisiewoordvoerder, gerig. Hy het dit nie geantwoord nie. “Sê asseblief vir jou bronne of informante dat as hulle lede van die polisie is, hulle van beter behoort te weet. Hulle weet watter prosedures hulle moet volg om griewe te lug. Die polisie sal nie op gerugte reageer en lede se persoonlike inligting bekend maak nie. Ek verstaan nie die verband tussen Zungu se bevordering en die ongelukke nie,” het hy gesê.

Hy het voortgegaan deur te vra hoekom die koerant nou skielik dié vrae vra na Vrydag se ongelukke. “Hoekom word die provinsiale kommissaris hierby betrek? As ‘n fout deur ‘n betrokke polisielid begaan is, moet ons daardie kwessie hanteer, eerder as om op sy persoonlikheid te fokus.”

Mohlala het Dinsdag ‘n mediaverklaring uitgereik waarvolgens dit aan die lig gekom het dat Zungu eintlik deur lede van die gemeenskap aangekeer is na hy in die ongelukke was. Hy het, onderweg op die R40 vanaf Witrivier, met ‘n Ford Bantam by die Rocky Drift-kruising gebots en weggery sonder om te stop. Hy het toe weer by die eerste afdraai na Riverside Mall met nóg ‘n Ford Bantam en ‘n Toyota Fortuner gebots.

Volgens Mohlala het ander motoriste toe sy voertuig afgesper en die sleutels uit die aansluiter gegryp. Die polisie is ontbied, Zungu is gearresteer en na ‘n hospitaal geneem vir toetse sodat sy bloedalkoholvlak bepaal kon word.

Die koerant het Dinsdag berig dat die dokter wat Zungu se bloed getrek het, in sy notas aangeteken het dat hy na drank geruik het. Zungu het ook in ‘n skriftelike verklaring gemeld dat hy 11:00 daardie dag ‘n Hunter’s gedrink het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button