MALALANE – Op me. Martie Kruger (47) se Facebook-blad lyk sy en haar oorlede man, mnr. Hennie Kruger (50) na ‘n doodgewone, gelukkige paartjie. Dit blyk nou egter dat hul huwelik nie maanskyn en rose was nie.
‘n Plaaslike vrou het hierdie week teenoor Laevelder gebieg dat sy en Hennie ‘n seksuele verhouding gehad het. Sy vrou het daarvan geweet en haar na bewering daaroor gekonfronteer.
Martie word nou van Hennie se moord aangekla nadat sy hom Maandag in hul huis in Maroelastraat doodgeskiet het.
Die Onderbergse gemeenskap krap kop oor die moontlike motief vir die moord, want die egpaar het glo nog Saterdag saam aan die Selati 2-in-1-marathon deelgeneem. Tog het bure hulle sedert vroeg Maandag-middag hoor baklei.
Die vrou wat beweer dat sy en Hennie ‘n verhouding gehad het, woon in Hazyview.
Haar besonderhede is aan Laevelder bekend. Sy het vertel dat sy onlangs geskei is en dat haar vriendinne haar op ‘n klomp aanlyn-kletswebtuistes geregistreer het, sodat sy ‘n nuwe liefde kon vind. “Hennie was op baie van hierdie webtuistes geregistreer en het met my begin gesels,” het sy vertel.
Hy het vir hulle vroeg in Oktober verlede jaar ‘n romantiese wegbreek by ‘n lodge bespreek en hulle het een naweek daar oorgebly. “Dit was pragtig. Hy het elke oggend ontbyt gemaak.” Volgens die vrou het hulle mekaar nie weer daarna gesien nie, maar kontak behou. Iemand het haar in Januarie geSMS en gevra of sy ‘n verhouding met haar man het.
“Ek was uit die veld geslaan en het nie geweet wie dit was nie. Ek het gevra wie sy en haar man is.” Die vrou het toe gereageer deur te sê dat sy maar kon bieg, aangesien sy “een van vele is en dat Hennie aan ‘n hartaanval dood is omdat hy Viagra gebruik het.” Volgens haar het Martie verder gesê dat sy hom finansieel moes dra.
“Ek was baie geskok toe sy my meedeel dat Hennie dood is. Dit was wreed van haar om dit te sê. Ek kon dus nie glo toe
ek Dinsdag lees dat hy die vorige dag doodgeskiet is nie.”
Martie se regsverteenwoordiger, mnr. Chris Engelbrecht, het by navraag gesê dat “hulle kennis neem van die beweringe en aanvaar nie noodwendig dat dit korrek is of enige verband met die voorval hou nie. Me. Kruger en die familie is steeds baie getraumatiseer deur die tragiese gebeure en verkies om geen verdere kommentaar te lewer nie.”
Martie is intussen Dinsdag op ‘n dramatiese wyse borg van R5 000 in die landdroshof op Barberton toegestaan. Sy is deurentyd deur haar twee seuns, Hendrik (27) en Marco (21) ondersteun.
Die polisie is Maandag omstreeks 16:30 na die Kruger-woning ontbied. Volgens provinsiale polisiewoordvoerder, brig. Selvy Mohlala, het die egpaar ‘n argument gehad. “Dit is op hierdie stadium nie duidelik waaroor dit gegaan het nie,” het Mohlala gesê.
Van die bure het ook gesien hoe sy twee vuurwapens vashou en het kort hierna glo die skote gehoor. Dis toé dat hulle die polisie ontbied het.
“Ons het haar man se lewelose liggaam op die vloer in die huis aangetref. Paramedici is ook na die toneel ontbied en hulle het Hennie dood verklaar,” het Mohlala bygevoeg.
Geskokte vriende en familie het buite die huis saamgedrom en nuus van sy dood het vinnig versprei. Martie is dadelik in hegtenis geneem. Daar is geen hofsittings in Malalane op Dinsdae nie en sy is na die hof op Barberton gebring. Sy het deurentyd gehuil en uitgeput voorgekom.
Die hof moes twee keer verdaag weens meningsverskille tussen haar regsverteen-woordiger,
adv. Johann de Necker en die landdros, me. Phindile Mlotshwa. De Necker het die redes waarom Martie op borg vrygelaat moes word aan die hof voorgehou, maar Mlotshwa het daarop aangedring dat hy ‘n beëdigde verklaring opstel waarin die redes vervat is.
Die hof het verdaag en Martie het vinnig met hom buite gesels voordat die verrigtinge hervat is. Dit is ‘n tweede keer onderbreek toe Mlotshwa daarop aangedring het dat De Necker ‘n sogenaamde opsomming moet indien. “Die saak moet oorstaan. Sê vir jou opdraggewende prokureur om vir jou ‘n samevatting te gee van die regspunte vir voorlegging aan die hof,” het sy gesê.
De Necker het gevra waarom dit nodig was, waarop sy geantwoord het dat sy nie met hom gaan argumenteer nie en dat hy die redes daarvoor moet gaan naslaan. Hy het ingestem en gevra dat die hof verdaag. Hy was duidelik woedend toe hy en Martie saam uitgestap het.
Toe verrigtinge uiteindelik hervat is, het De Necker dit aan die hof voorgehou dat sy nie ‘n vlugrisiko is nie en op borg vrygelaat moet word. “Sy bly reeds die afgelope 19 jaar in dieselfde huis in Malalane en is al 20 jaar as versekerings-makelaar werksaam.”
Hy het verder aangevoer dat sy graag na haar twee seuns wou omsien. Die staatsaanklaer, mnr. Rendani Thengani, was nie teen haar vrylating op borg gekant nie en Mlothswa het dit uiteindelik toegestaan.
Hennie was aktief betrokke in die gemeenskap en was voorsitter van die plaaslike sakekamer en rugbyklub. Die Krugers het saam H&M Kruger Inc. bedryf en volgens Engelbrecht sal sake normaal voortgaan.
Lees meer oor die borgaansoek hier.
