BURGERSFORT – ‘n Sakeman wat in Lydenburg woon, Pieter Labuschagne (45) is glo verlede Woensdag buite Burgersfort deur vier mans aangeval terwyl sy vroulike kollega verkrag is.
Labuschagne herstel yskaste vir ‘n plaaslike maatskappy en was op pad met ‘n kollega na ‘n buurt buite die dorp op die Ohrigstadpad.
Volgens kol. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, is Labuschagne blykbaar met toue vasgebind nadat hy langs die pad stilgehou het om aanwysings te vra.
“Volgens ons inligting is Labuschagne en die vrou na ‘n bergagtige gebied gery waar die vrou verkrag en Labuschagne verskeie kere met ‘n mes gesteek is,” sê Otto.
Pieter Jordaan, ’n vriend van Labuschagne, het gesê dat ’n uiters getraumatiseerde Labuschagne tuis aansterk.
Volgens hom is Labuschagne en die vrou uit die bakkie gepluk. Hy is met toue vasgebind en agter op die bakkie gegooi terwyl die vrou in die bosse verkrag is. Die aanvallers het sy beursie en selfoon gevat en hom vir sy bankkaart se PIN gevra. Elke keer dat hy ’n syfer vir hulle gegee het, het hulle hom gesteek.
Steelburger/Lydenburg Nuus het vir Rentia Boshoff, ‘n familielid van Labuschagne vir ‘n onderhoud geskakel. “Pieter wil ongelukkig op hierdie staduim met niemand praat nie. Baie dankie dat almal omgee,” was Boshoff se antwoord aan die koerant.
Volgens kol. Otto se inligting sterk Labuschagne tans by sy huis aan ‘n dag na hy uit ‘n hospitaal in Mbombela ontslaan is.
Dit is steeds onduidelik hoe hy en die vrou van hul aanvallers onsnap het.
