Sanger vorder van ewe onskuldige Sneeuwitjie tot gewaagde stout verby
Drie kunstenaars vermaak die skare by die jaar se Laerskool Burgersfort Winterfees

BURGERSFORT – Dewald Steyn is bekend vir sy debuutalbum Sneeuwitjie en het by die jaar se Laerskool Burgersfort Winterfees opgetree.
Hy is ook nie ‘n nuwe gesig in die omgewing nie en het oorspronklik vir ASA Metals gewerk voor hy terug is na Benoni om aan sy musiekloopbaan te werk. Hy bly tans in Pretoria.
Sy musiekvideo Sneeuwitjie is te sien op kykNet en hy is tans besig met sy tweede video genaamd “Stout verby”. “Dit is ‘n stoute enetjie,” lag hy. Dewald sê hy wou nog altyd deel van die musiekwêreld wees en het vyf jaar gelede voltyds begin liedjies skryf en sing.
Hy sê dat hy nog nie is waar hy wil wees in sy loopbaan nie maar dat hy dit eerste as ‘n werk en tweede as ‘n passie doen. Hy hoop om aan die einde van die dag “famous te word”.
“Dit is soos visvang. Jy vat ‘n kans en hoop om ‘n vis te vang. Ek vat ‘n kans en hoop om ‘n sukses daarvan te maak,” sê hy.
“Daar is reeds musiek in die familie bloed nog voor Dewald asem begin haal het. Sy Ma, Tersia, saam met haar tweelingsuster, Myra, was bekend in hulle jong dae as, Die Singende Tweeling. Met drie langspeelplate, saam met Sonja Heroldt, Lieb Bester, en ander bekendes het hulle die gehoor bekoor met hul sprankelstemme,” lees sy webtuiste – www.dewaldsteyn.co.za.
