MBOMBELA – ‘n Familievriend van die vrou in wie mnr. Gary Visagie (27) vasgery het, het Laevelder gister gekontak nadat sy die storie waarin hy geïdentifiseer word op die koerant se webtuiste gelees het.
Die vrou se besonderhede is bekend, maar word weerhou omdat sy bang is mense “kruisig haar omdat sy uitgepraat het”. Laevelder het verlede week berig oor konst. Thulani Mathe (35) en konst. Walter Nxumayo (32) wat aangekla word nadat hulle na bewering omkoopgeld van R400 aanvaar het.
Volgens ‘n amptelike mediaverklaring deur die polisie, het die ongeluk by The Grove se parkeerterrein gebeur. Dit is egter nie so nie. Dit het wel net voor 08:00 op 26 Julie gebeur, maar by die Kaapsehoop-pad/Granietstraat-kruising.
“Sy (die vrou in die ander motor) was in Kaapsehoop se rigting onderweg. Visagie het voor haar ingedraai in Belladonna se rigting,” het die vriend vertel.
Sy is vyf maande swanger en het net so in haar voertuig bly sit. Visagie het uit sy voertuig geklim en na haar geloop. “Die vrou ken Visagie en het hom op sy naam genoem, maar dit was asof hy haar nie herken het nie. Hoewel sy nie drank aan hom kon ruik nie, het dit vir haar gelyk of hy onder die invloed van alkohol was. Ons het later gehoor dat hy op pad huis toe was na ‘n partytjie en nog glad nie geslaap het nie.”
Mathe en Nxumayo is na die toneel ontbied. ‘n Ambulans het ook intussen daar aangekom en die vrou is agterin behandel.
“Visagie was baie ongeskik op die toneel. Haar suster het op die toneel aangekom en hom huilend gevra wat gebeur het. Sy (die vrou wat in die ongeluk was) kon vanuit die ambulans hoor hoe hy vir haar sê: ‘man, moenie met jou rooi p*sserige oë voor my kom staan nie’.”
Volgens ooggetuies op die toneel is Visagie agter in ‘n polisiewa gelaai en daar weg. Daar word beweer dat Mathe en Nxumayo glo aan hom gesê het dat, sou hy hulle R1 000 betaal, hulle hom nie hospitaal toe sou vat sodat sy bloed getrek kon word nie. Hy het hulle glo net R400 betaal.
‘n Polisiebeampte van Witrivier se honde-eenheid is van die voorval ingelig en hy het die twee konstabels na Mbombela se polisiestasie gevolg waar hy hulle gekonfronteer het.
Hulle is deursoek, maar die kontant is glo nie aan hulle gevind nie. ‘n Polisiekaptein het ook betrokke geraak en die twee konstabels is gearresteer. Mathe het glo handgemeen geraak met die kaptein en word ook van aanranding op hom aangekla.
Hlathi wou nie die bestuurder van die voertuig identifiseer nie omdat hy ‘n getuie is. Visagie het self teenoor Laevelder erken dat hy die voertuig bestuur het. Die koerant het hom oor die ongeluk uitgevra en hy het gesê dat hy nié polisiebeamptes omgekoop het nie en “nie weet waar die koerantaan sy feite kom nie”.
“Ek het gehoor van die goed wat julle (Laevelder) oor my geskryf het en ek weet nie waar kom julle daaraan nie. Dit het nie eens in The Grove se parkeerarea gebeur nie. Ek het nie polisiemanne omgekoop nie,” het Visagie gesê.
Hy het gevra dat die koerant hom terugskakel aangesien hy bestuur het. Hy het egter intussen regsadvies ingewin. “My prokureur sê ek moet onder geen omstandighede verder met julle praat nie. Hy sê ook julle mag geen name publiseer voordat die ondersoek nie afgehandel is nie.”
Hy het verdere navrae na dié regsverteenwoordiger, mnr. Schalk de Waal, verwys. “Ek is nie by magte om met julle te praat terwyl die ondersoek nog aan die gang is nie,” is al wat De Waal wou sê.
Die swanger vrou het erg las van ‘n beseerde skouer en rug. Sy is net dankbaar haar ongebore eersteling is ongedeerd en dat sy nie ‘n miskraam gehad het nie. “Ons sien hoe hewig mense op sosiale media reageer omdat Visagie geïdentifiseer word, maar sy kon dood gewees het of haar baba verloor het.
“Haar voertuig is afgeskryf en sy verduur nou geweldige pyn waarvoor sy geen medikasie mag neem nie omdat sy swanger is,” het die vriend vertel.
Hlathi het intussen by navraag gesê dat ‘n interne ondersoek na die twee konstabels se beweerde wangedrag reeds van stapel gestuur is. “Hulle is tans by die werk. Sodra die ondersoek afgehandel is, sal hulle 14 dae hê om te reageer deur te sê hoekom hulle nié geskors behoort te word nie.” Hulle moet weer op 26 Augustus in die hof verskyn.
