GalleriesLocal newsNewsNewsSchoolsSchools galleries

Tieners geniet hul gate uit by Jeugweek 2014

“Dit was baie wow en die hele week was groot pret”

LYDENBURG – Leerlinge van Hoërskool Lydenburg het pas hul Jeugweekskoene onder die tafel ingeskop, maar kan nie genoeg uitgepraat raak oor die “awesome sukses”, soos Venessa de Necker van Kohin dit beskryf nie.

Dié week wat daarop geskoei is om die jeug te bedien, word elke jaar deur Kohin, ‘n nie-winsgewende maatskappy, aangebied met die doel om hoop en visie onder kinders te kweek, verduidelik de Necker.

Sy sê dit is ‘n week wat kinders aan menige aktiwiteite blootstel en die geleentheid bied om antwoorde op die unieke uitdagings wat hulle daagliks teëkom, te verkry.

Die week is deur ‘n dekoraktiwiteit geopen waar kinders ‘n pleister op ‘n gebroke hart kon plak en ook ‘n gekleurde blokkie in ‘n legkaart kon plaas. “Die kinders het nie presies geweet waarvoor dit is nie, maar toe die tema, “New Beginnings and Awareness” deur Jacques Theron bekendgemaak is, en elkeen se blokkie deel vorm van ‘n pragtige skoenlapper, het leerlinge geweet hulle is in vir ‘n groot verrassing en sommer ekstra hard gesing tydens die lof en aanbidding onder leiding van Duis:Lig”, vertel sy.

Gedurende die week het die polisie se honde-eenheid leerlinge oor dwelms toegespreek en is daar ook ‘n ongelukstoneel uitgebeeld waarin ‘n ”pasiënt in ‘n kritieke toestand” uit’n wrak gesny moes word omdat sy geSMS het terwyl sy bestuur het. Volgens de Necker was die doel hiervan om die realiteit van ‘n ongeluk by kinders tuis te bring, maar ook om keuses en die gevolge daarvan te beklemtoon.

Bekendes soos Hykie Berg het ook ‘n draai kom maak, terwyl Radio Huh ‘n program Woensdagoggend uitgesaai het. Daar is gedurende die week verskeie getuienisse gelewer en werkswinkels is deur Creare aangebied terwyl daar in die aand saamgesing is onder leiding van die Creare-orkes. Leerlinge kon ook aan verskeie speletjies deelneem wat onder andere quatro bungy, aqua balls en human foozeball ingesluit het, terwyl ander weer van ‘n chat room gebruik gemaak het om kwessies aan te spreek. Die week is met ‘n Creare-produksie afgesluit wat vir groot opwinding gesorg het. “Dit was baie wow en die hele week was groot pret,” het de Necker gesê. “Alhoewel die week nog nie klaar betaal is nie en daar steeds R40 000 uitstaande is, was alles die moeite werd, veral toe die kinders vertel het wat die Jeugweek vir hulle gedoen en beteken het.”

Kohin bedank graag al die borge wat die week vir hulle moontlik gemaak het.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button