MBOMBELA – ‘n Vrou van die stad is Sondagaand in Lichtenburg in Noordwes gewond en haar skoonsuster koelbloedig doodgeskiet tydens ‘n huisroof in dié plattelandse dorpie.
Me. Retha Botma (52) en haar man, Gawie (61), het gister teen druktyd gewag op nuus van dokters oor of hulle al kan terugkeer na Mbombela nadat die tragedie hom dié aand in 14de Laan afgespeel het. Die Botmas het by mnr. Kobie en me. Amanda Vermeulen gekuier. Mnr. Vermeulen is me. Botma se ouer broer.
Die Botmas sou die volgende dag na die Noord-Kaap reis waar mnr. Botma, ‘n kontrakteur, sou werk en die twee vroue het in die kombuis gestaan en padkos maak.
Me. Melissa Van den Berg, die Vermeulens se dogter, het vertel dat twee aanvallers omstreeks 19:45 by die agterdeur ingekom het. Die vroue het begin gil en mnr. Vermeulen het uit die TV-kamer gehardloop om te kyk wat aangaan.
Een van die aanvallers het ‘n vuurwapen uitgeruk en begin skiet en na die TV-kamer gehardloop. Hy het mnr. Botma beveel om op die grond te gaan lê. Hy het ‘n skoot in die vloer geskiet en skrapnel het hom in die toon getref. Hy is Woensdagmiddag in ‘n Klersdorpse hospitaal geopereer om dit te verwyder.
Die rower met die vuurwapen het deur die huis gehardloop op soek na iets om te roof. Die ander een het die twee vroue intussen met ‘n besem in die kombuis aangehou en hulle kon nêrens heen gaan nie.
Die eerste rower het slegs twee selfone gegryp en terug gehardloop na die kombuis. “Hy het net aanhou skiet. My stiefma (me. Vermeulen) en tannie het geen weerstand gebied nie, maar hy het hulle sommer in die verbyloop tromp-op geskiet,” het Van den Berg vertel.
Me. Vermeulen is in die bors getref en is op slag dood. Me. Botma is twee keer getref, in die bors en arm. Haar arm het versplinter en is met ‘n plaat geheg. Sy is reeds Woensdagoggend uit die hospitaal ontslaan. Die egpaar bly reeds vyf jaar in Mbombela. Hulle seun, mnr. Diederik Botma, het gister by navraag gesê dat dit onder die omstandighede goed gaan met sy ouers.
‘n Roudiens is Woensdag vir me. Vermeulen gehou.
