MBOMBELA – ‘n Voormalige konstabel van Pilgrim’s Rest is Woensdag in die Rondgaande Hooggeregshof effektief tot 17 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy verlede jaar die ma van sy kind koelbloedig doodgeskiet het – vóór dié kind. Hy is boonop tronkstraf opgelê omdat hy die kleuter toe net so langs die pad gelos en weggery het.
Richwell Request Nyakane (31) was ‘n speurder op dié dorpie. Hy het ‘n vierjarige seuntjie waarvan me. Virginia Mashele (27) die ma was. Richwell en Mashele was op 10 Maart verlede jaar saam in ‘n voertuig toe hulle oor onderhoudgeld vir die kind begin stry het. Mashele wou meer geld van Richwell hê.
Volgens ‘n pleitooreenkoms wat hy met die staat aangegaan het, het hy verduidelik dat hy sy humeur verloor het, die voertuig op die plek tot stilstand gebring het en Mashele vier keer in die rug geskiet het. Die kind was saam met hulle in die kar en het alles gesien.
Richwell het Mashele uit die voertuig geboender en haar net daar gelos waar sy doodgebloei het. Hy het verder in die rigting van Bosbokrand gery waar sy huis was en het die kind onderweg langs die pad afgelaai en weggery.
Die hof het gehoor dat hy toe sy vrou en van sy gesinslede na Hoedspruit geneem het vir middagete asof niks gebeur het nie. Volgens polisiewoordvoerder brig. Selvy Mohlala, is Mashele se lyk deur verbygaande motoriste opgemerk. Dit is na ‘n nabygeleë staatslykshuis geneem en as ‘n ongeïdentifiseerde liggaam geberg.
Die polisie het egter met ‘n grootskaalse ondersoek begin en Mashele is kort hierna uitgeken. Richwell is gevolglik die volgende dag gearresteer.
Volgens Mohlala het hy dadelik skuld beken en is nooit borg toegestaan nie. Hy is Woensdag tot 15 jaar tronkstraf vir die moord gevonnis en ‘n verdere vyf jaar omdat hy sy kind langs die pad gelos het. Drie jaar hiervan gaan samelopend met die 15 jaar uitgedien word.
Die regter het verder gelas dat hy R5 000 aan Mashele se familie vir haar begrafnis, voor einde Oktober moet betaal. Provinsiale kommissaris lt. genl. Thulani Ntobela het die vonnis verwelkom en polisielede gewaarsku dat hulle nie bo die wet verhewe is nie. “Lede met kriminele sake teen hulle moet weet hul dae is getel,” het hy gesê.
