MBOMBELA – ‘n Jongman wat blind gelaat is in een oog ná ‘n kroeggeveg, hoop dat geregtigheid uiteindelik volgende maand in die Gautengse Hooggeregshof sal geskied – byna drie jaar ná die voorval.
Hoewel sy aanvaller waarskynlik nooit krimineel aanspreeklik gehou sal word nie, het dié jongman (24) ‘n siviele eis teen hom ingestel en hoop om ten minste geldelik vergoed te word sodat hy toekomstige mediese uitgawes sal kan dek.
Die kriminele saak is September verlede jaar uit die hof gegooi omdat die dossier nooit na die hof geneem is nie en omdat die klaer nie opgedaag het nie. Laasgenoemde is egter nooit gedagvaar om daardie dag te verskyn nie. Hoewel die polisie hierna by navraag gesê het dat hulle weer die klaer sou dagvaar om in die hof te verskyn, het Laevelder hierdie week vasgestel dat dit toe nooit gedoen is nie.
Mnre. Reghardt Koekemoer (24), Johan Blom en Matt Blom het in die vroeë oggendure van 3 November 2011 by Coyotes gekuier. Dié kroeg het intussen sy deure gesluit. Koekemoer en Matt (Johan se seun) het met mekaar slaags geraak, maar Koekemoer kon destyds nie onthou waaroor nie. “Ons het dit wel uitgesorteer voordat sy pa betrokke geraak het.” Die hele onsmaaklikheid is met kringtelevisiekameras in die kroeg opgeneem.
Hierop kan gesien word hoe Blom sr. vir Koekemoer wou bydam en ander kroeggangers hom gedurig in toom moes hou. Hy het later na die ander kant van die kroeg beweeg en Koekemoer het gaan sit. Meteens het ‘n glas van die anderkant af vir Koekemoer vol in die regteroog getref. Hoewel mens nie op die video kan sien wie hom gegooi het nie, het verskeie van die kroeggangers Blom sr. as die sondebok geïdentifiseer.
Daar is met Koekemoer na ‘n hospitaal gehaas. Blom sr. het kort hierna Koekemoer se ouers – mnr. Pieter en me. Liezel Koekemoer, gekontak. Hulle het daarop aangedring dat hy in ‘n privaat hospitaal behandel word. Me. Koekemoer het nog destyds aan Laevelder vertel dat Blom sr. glo aan haar gesê het dat dit R20 000 vir vyf dae se behandeling sou kos. “Hy het gesê dat ons vir goedkoper sou kon regkom by Rob Ferreira Hospitaal en dat Reghardt dan die res van die geld vir homself kon hou.” Hy sou dit glo doen op voorwaarde dat Koekemoer sr. aan om ‘n e-pos stuur waarin hy onderneem om nié klagtes teen hom te lê nie.
Hy het egter geweier en voortgegaan om ‘n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer teen Blom sr. in te dien. Blom sr. het op sy beurt ‘n klag van intimidasie teen Koekemoer sr. geopen nadat dié op Facebook teen hom uitgevaar het.
Intussen is Koekemoer jr. blind in sy regteroog gelaat. “Dit is onherstelbaar geskend. Daar is niks meer wat hulle vir my kan doen nie. Hulle het my aangeraai om dié oog te laat verwyder en ‘n kunsoog van silikoon te laat insit,” het hy verlede week by navraag gesê.
Sy regsverteenwoor-diger het ‘n siviele eis van sowat R1,4 miljoen teen Blom sr. ingestel. “Daar is nog glad nie sprake dat ons buite die hof gaan skik nie en die saak gaan op 9 September aangehoor word,” het Koekemoer jr. voorts gesê. “Daar is ‘n paar ooggetuies wat aangedui het dat hulle sal getuig dat dit Blom sr. was wat die glas gegooi het.”
• Laevelder het verlede jaar berig dat die kriminele saak teen Blom sr. laat vaar is omdat die dossier nie na die hof geneem is nie en omdat Koekemoer jr. nooit gedagvaar is om in die hof te verskyn nie. Koekemoer sr. het toe vir kol. Gerrie Agenbag, hoof van die plaaslike speurtak, geskakel en sy ongelukkigheid hieroor uitgespreek.
Kapt. Dawie Pretorius, polisie-woordvoerder, het toe nog by navraag gesê dat Blom weer gedagvaar sal word om in die hof te verskyn. “Die datum sal vasgestel word sodra die dagvaardiging uitgereik is,” het hy gesê.
Toe Laevelder weer hierdie week daaroor navraag doen, het Pretorius bloot gesê dat die laaste inskrywing in die dossier daarop dui dat die saak uit die hof gegooi is.
• Kyk na die beeldmateriaal van die voorval hier
