Bruin hiënawyfie word dood aangetref op Badfonteinpad
Volgens Comacho kom padsterftes onder roofdiere al hoe meer voor. “Dit is omdat die diere paaie meer moet kruis. Nie net die spesies nie, maar die habitat moet beskerm word. Die diere moet ‘n area bewoon waar hulle veilig kan aanteel. Met inteling kan die diere hulself doodteel.”
LYDENBURG – ‘n Bruin hiëna van ongeveer 35kg is Maandag op die Badfonteinpad doodgery. Dit volg nadat daar verlede week oor twee luiperds in strikke berig is.
Volgens roofdierdeskundige mnr. Gerrie Comacho, is hy deur ‘n boer van die distrik van dié dier se karkas langs die pad in kennis gestel. “Ek het aanvanklik gedink dat dit moontlik ‘n aardwolf kon wees. Die verskil tussen bruin hiënas en luiperds, is dat luiperds ‘n beperkte verspreidingsgebied in Suid-Afrika het en hiënas s’n in die suidelike substreek baie wyer is, alhoewel die luiperd se totale verspreidingsgebied oor die wêreld groter is. Bruin hiënas kom net in dié gebiede voor, maar die diere se getalle is steeds hoër as dié van die luiperd.”
Hy meen dat waar die twee roofdiere saam in ‘n area voorkom, die luiperds gewoonlik die alfa is. “Hiënas is ook geneig om die luiperds te volg. Hulle hoor as die roofdier ‘n prooi gevang het, volg hom en aas van hom af. Daar was al gevalle waar hulle ‘n luiperd se prooi afgeneem het. Dit gebeur dikwels as daar baie hiënas is of as een groter en sterker as ‘n jong luiperd is. Hulle is dus sterk kompetisie vir mekaar.”
Camacho meen dat dié diere gereeld in strikke gevang word, vergiftig en doodgeskiet word. “Hulle is geneig om in strikke op te eindig omdat hulle goeie reuksintuie het. Gewoonlik word slegs die boude en rugstring van bokke wat gevang word, uitgesny en die res daar gelos. Die reuk lok natuurlik die hiënas. Die diere vreet aan die karkas en beland in een van die ander strikke. Hulle is ook vreeslik gesog vir moetie.”
Hy meen omdat die diere se getalle hoër is, daar meer skade aan vee berokken word. Wat egter vreeslik interesssant is, is dat beide die bruin en gevlekte hiëna albei inwendige geslagsdele het. “Die wyfie het ‘n sero-penis wat soos ‘n manlike geslagsdeel lyk. Sy kry ook deur daardie buis kleintjies. Dit bars basies heeltemal tydens geboorte, maar groei egter weer terug. Dis ‘n wetenskaplike wonder. Mense verwar ook dikwels die wyfies en die mannetjies met mekaar as gevolg van ‘n saamgegroeide vulva wat soos twee skrotumsakke lyk. ‘n Mannetjie het ‘n gepunte penis en die wyfie s’n is gerond. Dit is egter baie moeilik om tussen die geslagte te onderskei.”
Daar is ‘n mite dat die diere hermafrodiete is, dit wil sê tweeslagtig. Daar word egter gereken dat dié inwendige geslagsdele op primatiewe ontwikkeling dui.
Volgens Comacho kom padsterftes onder roofdiere al hoe meer voor. “Dit is omdat die diere paaie meer moet kruis. Nie net die spesies nie, maar die habitat moet beskerm word. Die diere moet ‘n area bewoon waar hulle veilig kan aanteel. Met inteling kan die diere hulself doodteel.”
Teen Maandagmiddag laat het Comacho laat weet dat die hiëna toe inderdaad ‘n wyfie is. “Dit is interessant, want dit lyk of sy ‘n vergrote skrotum het wat by mannetjie gevlekte hiënas meer prominent is. Die wyfie was ook dragtig en het twee klein fetusse gehad.”
