Diefstal vind plaas deur die gebruik van afstandbeheerders
Die verdagtes het ‘n hek se afstandbeheerder gebruik om toegang tot 'n bakkie te verkry en 'n skootrekenaar is daaruit gesteel
STEELPOORT – Drie verdagtes is Dinsdag, 14 Oktober op klagtes van diefstal in hegtenis geneem.
Ooggetuies wat die voorval gade geslaan het, het rapporteer dat die verdagtes ‘n hek se afstandbeheerder gebruik het om toegang tot ‘n bakkie te verkry en ‘n skootrekenaar daaruit gesteel het.
“Wanneer jy jou voertuig se afstandbeheerknoppie druk om dit te sluit, gebruik die skelms ‘n hek se afstandbeheerder om joune te kanselleer sodat die voertuig nie sluit nie,” vertel een van die ooggetuies.
Volgens Elbie Blom, assistent by dr. De Jager se spreekkamers, het drie mans in ‘n blou voertuig voor die spreekkamers parkeer nadat hulle die bakkie beroof het. ‘n Pasiënt wat die voorval aanskou het, het een van die verdagtes herken en die SAPD geskakel waarna hulle vasgetrek is. Red Security het ook bystand verleen.
Konst. Victoria Maluleka van Burgersfort Polisiestasie sê dat die verdagtes op Oktober 16 in die Brugersfort Landdroshof verskyn en op waarskuwing vrygelaat is. Maluleka voeg by dat inwoners moet seker hul voertuie behoorlik gesluit is en dat alle waardevolle items in die bagasieruim gebêre is.
