Gert de Beer se moordenaar kry 30 jaar tronkstraf
Die man wat verantwoordelik was vir die plaasaanval op mnr. Gert de Beer en sy vrou op 10 Oktober 2013 is vanmiddag in die rondgaande hof in Mbombela gevonnis.
MBOMBELA – Die man wat mnr. Gert de Beer op 10 Oktober verlede jaar op sy plaas buite Witrivier vermoor het, is vanmiddag in die rondgaande Hooggeregshof tot 30 jaar tronkstraf gevonnis.
Welcome Zenezela Bulunga (22) het de Beer en sy vrou, me. Nicolina Albertina Jacoba de Beer, op 10 Oktober 2013 op hul plaas Spioenkop aangeval. De Beer het aan sy wonde beswyk en mev. de Beer is drie maande daarna aan ‘n hartaanval oorlede. Die patoloog wat die lykskouing op de Beer gedoen het, het onder meer getuig dat hy minstens 20 keer met ‘n stomp voorwerp geslaan is.
Welcome het vanuit die staanspoor skuldig gepleit op al vier klagte teen hom.
Regter Peter Mabuse het hom tot 25 tronkstraf gevonnis vir die moord op de Beer. Hy is tot 12 jaar tronkstraf gevonnis op die klag van roof met verswarende omstandighede. Sy onregmatige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie het onderskeidelik vier en twee jaar tot die vonnis gevoeg. Mabuse het beveel dat Bulunga slegs 30 jaar hiervan effektiewelik sal uitdien.
Mnr. Jan de Beer, ‘n broerskind, het gesê die vonnis gaan hulle nie terugbring nie. “Soos Oom Gert vir ons almal n voorbeeld was, gaan my gebede na my familie en die kinders van Oom Gert. Opregte dank aan Oom Luis Correia vir sy volhoubare ondersteuning en wat hy ook moes deurmaak as n vriend van ons oom waar hy hom in sy kamer gevind het, die hulp wat hy aan tannie Lina verleen het en ook die skakeling met ons as familie.
“Dankie ook aan Grobbies en sy span van die Witrivier-speurtak vir die hantering van hierdie saak. Laastens dankie aan ons Skepper wat ons deur hierdie tyd gedra het.”
