MBOMBELA – Die saak teen mnr. Victor Wilkens (31), wat daarvan aangekla word dat hy sy vorige meisie probeer doodmaak het, sal voortaan deur ‘n senior staatsaanklaer waargeneem word en in Januarie in die Nelspruit Streekshof hervat.
Wilkens is gearresteer nadat me. Amanda Joubert (23) op 16 Januarie vanjaar van sy woonstel in Hillside Manor se balkon afgeval het. Hy is ná sy inhegtenisname in die Nelspruit-gevangenis tot 3 Maart aangehou, toe hy op borg van
R3 000 vrygelaat is. Dit is tydens hierdie borgverrigtinge waar die staat ‘n verklaring deur Joubert aan die hof voorgehou het.
Sy het glo in hierdie verklaring beweer dat Wilkens haar kop teen ‘n muur gestamp het en sy daarna haar bewussyn verloor het. Die datum op die verklaring lui egter Desember 2013 en landdros me. Christa du Plessis het Wilkens se regsverteenwoordiger,
mnr. Coert Jordaan, destyds gelyk gegee toe hy uitgewys het dat die staat se dossierinhoud Wilkens nie direk met die voorval verbind nie. Op daardie stadium was die ondersoek teen die beskuldigde steeds hangend.
Wilkens het gister vlugtig in die Nelspruit Distrikshof verskyn. Die saak is na 23 Januarie 2015 uitgestel en na die Nelspruit Streekshof oorgeplaas, waar senior staatsaanklaer me. Ansie Venter vir die staat sal optree.
Lees meer hier.
