Koedoe-kalfie van gewisse dood gered
'n Boer in die Broham-omgewing, mnr. Christo Nel, het die kalf vanoggend (Donderdag) dou voor dag op sy grasperk opgemerk.

WHITE RIVER – ‘n Week oue koedoekalf wat deur sy ma wees gelaat is, is vanoggend (Donderdag) deur die plaaslike staatsveearts, dr. De la Rey Brugman van ‘n gewisse dood gered.
‘n Boer in die Broham-omgewing, mnr. Christo Nel, het die kalf Donderdag dou voor dag op sy grasperk opgemerk.
Die bokkie het verwilderd voorgekom en Nel het besluit om dadelik die staatsveearts te ontbied.
Na ondersoek kon Brugman bevestig dat hy die horinkies net-net onder die vel kon voel, wat bepaal dat dit ‘n bul is.
‘n Kalmeermiddel is vinnig toegedien omdat die eerste paar uur lewensbelangrik vir so ‘n jong bokkie is en stres maklik sy dood kan veroorsaak.
Die kalfie word in ‘n kamp net buite Witrivier aangehou en sal vir die volgende drie weke bottelvoeding kry.
‘n Eksterne parasietbeheerprogram sal ook dadelik uitgevoer word.

Die kamp waarin die bokkie aangehou word, het reeds ‘n reputasie opgebou as veilige hawe wat verskeie diere soos tierboskatte van ‘n gewisse dood red.
Voorheen is rooibokkies, rooikatte en ook nonnetjies-uile hier gerehabiliteer.
Die skeiding tussen die koedoekoei en haar kalfie is vermoedelik deur ‘n heining veroorsaak, reken dokter Brugman: “My vermoede is dat die koei oor die heining gespring het en dat die klein kalfie haar nie kon volg nie. Ons kom dit gereeld teë.”

Die klein kalf het dalk sy mamma verloor, maar darem nie sy nuuskierigheid nie, want snuffel-snuffel het hy Laevelder se kamera ontdek en ondersoek. Foto’s deur Stefan de Villiers
https://youtu.be/Na_ppmT-dfM

