CrimeHard newsNewsNewsUpdate

Vrou praat nege maande later oor wrede aanval

Eers toe hulle 'n strykyster vuurwarm maak en haar daarmee op die bobeen brand, het sy gesê waar dit is. "Ek kon toe nie meer nie, toe sê ek maar waar is die sleutel," vertel sy, amper verskonend, en wys na waar die bloed van haar neus op die yster gedrup en droog geword het

MBOMBELA – “Hy gryp my nog soms aan my nek, dan gil ek. Dan vra ek die bure of ek hulle nie wakker geskree het nie.” Christine Otto (76) verwys na die nagmerries wat sy nog kry – nege maande na sy wreed op haar kleinhoewe by Burnside aangeval en onder meer met ‘n strykyster gebrand is.

Luister jy na haar storie, besef jy dit is ‘n wonderwerk dat sy oorleef het. Sy sê self sy sien God se hand in alles wat daardie dag gebeur het.
Dit was 08:30 op 20 Maart. Sy was op pad na ‘n roudiens vir Willie Fick. “Ek was ewe grênd aangetrek.” Sy het net by die huis uitgestap en was op pad af met die eerste trappie, toe die eerste verdagte op haar afstorm. Sy het nie eens tyd gehad om die noodknoppie wat om haar nek gehang het, te druk nie. “Hy was gróót. Met sulke lelike, rooi uitpeuloë. Daar was ‘n litteken langs sy regteroog.”

Christine gryp haar nek met albei hande vas en illustreer hoe die man haar sonder moeite van haar voete opgetel het. Soos jy ‘n babahondjie aan sy nekvel optel. Dit is nie moeilik om te begryp nie. Christine weeg nie meer as 42kg nie. Klein en fyn, maar so sterk soos ‘n bees, vind jy later uit.
Die man het haar op die stoep neergesit en met ‘n rewolwer teen die rug die huis ingeboender. “Hoewel hy ‘n klapmus opgehad het, kon ek sien hoe hy vir iemand wink om nader te kom. Toe maak nog twee mans hulle verskyning,” onthou sy.

Hulle het aanvanklik ‘n doek oor haar kop getrek en haar op die grond neergegooi. Toe sy wou opstaan, val die eerste hou van ‘n sambok op haar rug en kloof dit oop. Toe skop hulle haar op die rug sodat sy weer moes lê – so hard dat van haar werwels geskuif het. Hulle het haar hierna in die spaarkamer ingestoot, op die bed gegooi en haar begin martel. “So brutaal, met die grootste geweld. Sjoe, hulle het my verniel. Daar was nie ‘n plek aan my wat nie seer was nie,” vertel sy.

Die boosdoeners het ‘n tou waarby daar stukkies metaal ingevleg was, dubbel gevou en haar daarmee deur die gesig geslaan. “Elke keer wat ek die Here se Naam aangeroep het, het hy my geslaan. Asof hy my wou doodslaan.” Die bloed het by haar neus begin uitstroom.

Hulle het haar klere van haar lyf afgeruk en haar gevra wie nog in die huis gebly het. “Ek het gesê dat ek vir my kinders wag en dat dit my dogter se voertuig is wat buite staan.” Sy het op ‘n stadium gesê dat sy vir haar man wag, waarop een geantwoord het: “Jy lieg, jou man het lankal gevrek.”

Hulle het Christine bly vra vir die kluis se sleutel. “Daar was vier vuurwapens in die kluis. Ek het aan die onskuldige mense gedink wat geskiet sou word as hulle daardie wapens in die hande moes kry.”

Eers toe hulle ‘n strykyster vuurwarm maak en haar daarmee op die bobeen brand, het sy gesê waar dit is. “Ek kon toe nie meer nie, toe sê ek maar waar is die sleutel,” vertel sy, amper verskonend, en wys na waar die bloed van haar neus op die yster gedrup en droog geword het.

Sy bly sterk terwyl sy haar ervaring deel, totdat sy erken hulle haar wou verkrag. “Hulle het gesê hulle gaan my verkrag. Ek het toe saggies begin bid en die Here gevra om tog daardie lydingsbeker by my verby te laat gaan. Ek het gedink aan wat ek kon doen of sê om dit te verhoed. Toe kry ek hierdie kalmte oor my en antwoord: ‘I don’t mind. I have Aids and only have a few months left to live’. Toe los hulle my.”

Sy huil en voeg by: “As hulle my verkrag het en ek het daar losgekom, sou ek myself keelaf gesny het. Dit is een ding wat ek nie sou kon verwerk nie. Daardie vernedering. Ek sou dit nooit vergeet nie.”

Christine vertel dat hulle selfs haar oë wou uitsteek. “Hy het ‘n skroewedraaier opgetel en my gevra: ‘What about your eyes?’ Toe val dit uit sy hand en hy kon dit nie weer kry nie.” Ook hierin sien sy die Here se hand.

Hulle het haar hande agter haar rug met tou vasgemaak en ook ysterboeie aangesit. “Verskriklik styf. Ek het hom gevra om dit net ‘n bietjie losser te maak, waarop hy geantwoord het: ‘I won’t do it, you white b*tch’.”

Haar voete is ook vasgebind voordat hulle ‘n vuil spons in haar mond gedruk en dit toegeplak het. “Dit was vol hare,” onthou sy die spons en gril. Hierna is sy stort toe gedra en daar ingegooi. “Your next stop will be the mortuary,” het hulle haar toegesnou en gelag.

Hulle het haar gelos en die huis verder geplunder – die ys- en vrieskaste leeggemaak en drank gedrink. “Ek het iemand hoor aangestap kom en gemaak of ek dood is. Oomblikke later toe hoor ek daar gaan my karretjie. Weet jy hoe voel ‘n mens?”

Dit was omstreeks 12:30. Christine se beproewing sou nog lank nie verby wees nie. “Ek het daar in die stort gelê en gebid: ‘Here, U het Jona uit die walvis gered. Daniël uit die leeukuil. U is dieselfde God. Help my of vat my weg’. Dit is toe asof ek nuwe krag gekry het. Krag wat mens net van Bo kan kry.”

Christine het agteruit uit die stort begin kruip en agteroor daar uitgeval. Sy het een doel voor oë gehad: om ‘n ystersaag waarmee sy die vorige dag ‘n stuk bamboes gesaag het, te bereik. Sy kon onthou sy het dit bo-op haar gereedskapskis gesit wat elders in die huis gestaan het. Sy moes daar uitkom.

Sy het op haar boude en sye deur die huis geskuifel. Oor boekrakke, meubels en ander items wat die boosdoeners omgegooi het. Sy het na ‘n lang gesukkel by die kis uitgekom en die saag met haar pinkie beetgekry. Sy illustreer hoe sy tot by ‘n bank geskuifel en soos ‘n slang teen dit opgeseil het. Hier het sy gesit en die toue om haar voete losgesaag.

 

Net die vorige dag was ‘n beampte van Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit by haar huis omdat die alarm in een van die kamers foutief was. “Ek het die man nog gevra wat ek sou doen as iemand die paniekknoppie om my nek gevat het. Hy het my toe ‘n knoppie in my slaapkamer gaan wys wat ek kon druk. Ek was nooit voorheen daarvan bewus nie.”

Christine se voete was los, maar blou met byna geen gevoel nie omdat dit so styf vasgebind was. Sy het met moeite na die slaapkamer gestap. Met haar hande nog agter haar rug vasgebind, kon sy nie by die knoppie uitkom nie omdat sy so kort is. Die verdagtes het alles van haar bed se kopstuk afgegooi, maar ‘n skêrtjie het agter gebly. Sy het dit gevat, op die gereedskapskis geklim en die knoppie gedruk. “Sommer vier keer. Dit was nie 10 minute nie, toe is Hi-Tech daar,” vertel sy.

Dit was toe reeds 17:50 en byna donker. ‘n Beampte het by die huis ingestap en na haar geroep. Sy het genoem dat sy feitlik kaal was en hy het ‘n handdoek in die badkamer gaan haal. “Hy het dit om my gehang sonder om te kyk,” vertel sy met groot waardering.

Toé eers kon hulle haar hande bevry. Die boosdoeners het gelukkig die sleutels net so in die boeie gelos. “My hande het nie eens daardie tipiese naalde en spelde-gevoel gehad nie, hulle was net dood. Die dokter het later vir my gesê dat, as my hande nog veel langer so styf vas was, die weefsel moontlik sou begin afsterf het en my hande geamputeer moes word.”

Sy praat net met lof van Jacques Ainslie, Hi-Tech se paramedikus, wat haar op die toneel behandel het. Hy het ook die volgende week, drie keer elke dag, die wonde aan haar bobeen en rug behandel.

Sy is daardie aand na Nelmed Medicross waar sy deur ‘n dr. Siegfried Pellissier behandel is. “Hy het gesê my beserings was die ergste wat hy nog in sy loopbaan teëgekom het. Ek het nooit ‘n rekening van hom gekry nie. Hy het gesê die Here sal hom straf as hy my geld moes vra.”

Christine se fisiese wonde het mooi genees. Sy is nou ‘n inwoner van Pumalanga Aftreeoord en die hoewe is in die mark. Sy vertel dat die verdagtes onder meer al die vleis uit haar vrieskas gesteel het, maar wys dan na ‘n splinternuwe kisvrieskas met ‘n hele agterkwart van ‘n bees wat sy onlangs by Crossing SUPERSPAR gewen het. Ook dít beskou sy as ‘n seën van Bo.

Drie mans – Thulane Nonyama, Senzo Masekob en Lucky Misi – is in Junie in verband met die voorval aangekeer en moet weer op 20 Mei volgende jaar in die hof verskyn. Christine wil daar wees. “Ek wil hulle in die oë kyk. Hulle moet sien watse groot God ek het.”

• Christine bedank haar Skepper en almal wat haar daardie dag en na die tyd bygestaan het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button