Jong leerder een van die dae op die been
Motorfiets ongeluk stop jongman se drome net tydelik
SKUKUZA – ‘n Ernstige ongeluk het sy drome om rugby te speel nie vernietig nie, maar net ‘n bietjie aangepas.
Dit is die mening van Pieter Broodryk (14), ongeveer ses weke na ‘n motorfietsongeluk naby Middelburg sy lewe ingrypend verander het.
“My rugbydrome is nog groot, maar dalk sal ek hierdie jaar oorslaan. Ek verstaan dat ek nie nou ongeduldig moet raak nie en ek sal dit stadig vat.”

Pieter se pa, Skukuza-speurhoof AO Willie Broodryk, sê die afgelope ses weke was uitputtend vir hulle almal, maar hy is baie dankbaar dat die ergste nou agter die rug is. “Ten spyte van al die hartseer en stres, moet ek sê daar was baie positiewe dinge ook. Dit het ons familie nader aan mekaar gebring en onbaatsugtige vriende het nie geweifel om te help nie. Dit het ook my geloof verdiep en daarvoor is ek dankbaar.”

Hy weet Pieter gaan nou ‘n moeilike deel van sy herstelperiode binne, wanneer hy gaan begin loop met krukke en teruggaan skool toe. Dit klink maklik, maar hy weet dit gaan hom baie beproef.
Pieter se ongeluk kos hulle sover meer as R800 000 en al die mediese onkoste hou hulle maar aan ‘n baie kort leiband, maar dis darem onder beheer, sê Willie.
Pieter self is vol lof vir sy grootste vriend Bossie, wie se vinnige optrede op die ongelukstoneel sy lewe gered het.

“Die goue reël met motorfietsryers is dat jy nooit jou valhelm moet afhaal nie, maar Bossie het net ‘n oomblik sy oë gesluit en toe dadelik my valhelm afgehaal, want ek was besig om in my eie bloed te verdrink. Ek is baie dankbaar daarvoor. Vir my huisgesin wil ek ook net sê dankie vir alles, maar julle kan my nou maar ophou baby!”
Pieter se eerste termyn van gr. 10 begin so bietjie later by Rob Fereirra Hoërskool en hy is bly dat dinge uiteindelik na normaal toe sal terugkeer!
Alhoewel hy nou nie sy geliefde sport, rugby, sal kan beoefen nie, dink hy darem hy sal krieket kan speel.
“Maar een ding wéét ek: Ek gaan in April begin draf.”
