AnimalsHard newsHealthLifestyleLocal newsNewsNews

Beseerde wildeperd weer op die been

"Ons moet na ons merries kyk. Daar is hopeloos te min in die troppe vir die hoeveelheid hingste, wat kan veroorsaak dat die perde se getalle kan afneem."

KAAPSEHOOP – Een van die min merries in ‘n trop wildeperd is Dinsdag verdoof en behandel nadat sy ernstige beserings aan haar lies opgedoen het.
Die merrie is ‘n paar dae gelede in areas om die dorpie opgemerk. Me. Reinette van Niekerk, wat haar oor die perde ontferm, het ‘n span bymekaargemaak om die dier so gou moontlik te behandel.

Van Niekerk spekuleer dat sy haarself nie behoorlik kon skoonmaak nie, wat tot besmetting gelei het. “Nog ‘n rede kan wees dat daar te min merries vir al die hingste is en dat dié een tydens paring met veelvuldige hingste beseer is.” Mr Donnie Engelbrecht, veearts by Van Wijkstraat Dierehospitaal, is uitgeroep om die operasie te behartig.
Hy het die perd met ‘n pylgeweer geskiet om haar te verdoof.

“Omdat die besering op sulke sagte vel is, kon ons glad nie steke insit nie,” sê Van Niekerk. “Ons kon haar slegs met penisillien en ‘n anti-parasitiese en antiseptiese middele behandel.”
Die anti-parasitiese stof waarmee die span haar ingespuit het, voorkom dat maaiers in die wond groei.
Van Niekerk sê die kostes van die operasie het tussen R1 200 en R1 600 beloop.
“Dit sluit die veearts se brandstof en die tweede behandeling in.”

Sy maan dat die merries mooi opgepas moet word omdat hulle so min is.
“Ons moet na ons merries kyk. Daar is hopeloos te min in die troppe vir die hoeveelheid hingste, wat kan veroorsaak dat die perde se getalle kan afneem.”
Volgens haar is die wilde-merries die meeste van hul lewens dragtig. “Hulle word ‘n paar dae nadat hulle gevul het, weer gedek.
“Dit verwoes hulle immuniteitstelsel en maak hulle vatbaar vir baie perdesiektes.” Die beseerde merrie sterk mooi aan en sal oor ses weke haar tweede behandeling ontvang.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button